153 VISSE
- 3 minutes read - 630 wordsDie dissipels het na Jesus se dood weer begin visvang. Hulle was egter onsuksesvol totdat Jesus vir hulle gesê om hul nette aan die regterkant van die boot uit te gooi. Die regterkant stel altyd die teenwoordigheid van God voor. In Sy teenwoordigheid was die dissipels suksesvol en vang hulle 153 visse.
“Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie. Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was. En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.”
JOHANNES 21:11-14 AFR53
Daar word geglo dat daar 153 spesies van vis in die waters was en hulle het dus een van elke tipe gevang.
“Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
MATTHÉÜS 13:47-50 AFR53
Die dissipels het vissers van mense geword en die Woord kan aan al die nasies verkondig word. In gematria stel die nommer 153 die kinders van God (sons of God) voor. Dit is God se wil dat al die verskillende mense op Aarde gered sal word. Daar is nie ‘n nasie wat nie uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam nie.
“NÁ hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;”
OPENBARING 7:9 AFR53“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.”
II PETRUS 3:9 AFR53“Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword. En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie 'n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder 'n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Want baie is geroep, maar min uitverkies.”
MATTHÉÜS 22:8-14 AFR53
Dit het alles gebeur met Jesus se derde en finale verskyning aan die dissipels. Jesus het eers gekom om vir ons te sterf. Hy gaan terugkom om ons met die wegraping vir ons in die lug te ontmoet en die 1000 jaar van vrede sal volg. Die derde keer wat Hy verskyn sal wees vir die laaste oordeel waar daar ‘n finale skeiding tussen goed en kwaad sal wees.