ADAM EN EVA
- 6 minutes read - 1226 words“En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot 'n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.”
GÉNESIS 2:22-24 AFR53
“En die mens het sy vrou Eva genoem, omdat sy moeder geword het van alles wat lewe.”
GÉNESIS 3:20 AFR53
Die Hebreeuse woord vir die mens (“mankind” - Strong’s H120) is Adam. Die term Adam sluit man en vrou in en hulle was gemaak na God se beeld. Die Nuwe Testament sê dat Adam ‘n seun van God was.
Man in Hebreeus is “ish” en vrou is “ishah”, wat as mannin vertaal word in Génesis 2:23.
Nadat Adam en Eva ongehoorsaam was gee Adam vir die vrou ‘n naam. Voor die val het Adam reeds name aan al die diere gegee.
Eva: Strong’s H 2332 - Hawwah - lewe, want Eva het die moeder geword van alles wat lewe.
“EN die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het 'n man verkry met die hulp van die Here. Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het 'n skaapherder geword, en Kain 'n landbouer.”
GÉNESIS 4:1-2 AFR53
“Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem.”
GÉNESIS 5:3 AFR53
Kain - Strong’s H7014 - metaalwerker, voortgebring, verkry, plek van die metaalwerkers, Keniet
TPT: besete/besit (“possessed”) of smid/fabriseerder (“smith” /“fabricator”)
Eva het geboorte geskenk aan ‘n man (ish) en nie aan ‘n Adam wat gemaak is na God se beeld nie. Waarom sou hulle hom Kain noem? Ons weet hulle het name gegee waarvan hulle die betekenis verstaan het. Kain wou nie vir God volg nie en het later vir Abel doodgemaak. Het daar iets snaaks gebeur voor of met Kain se geboorte?
Kain was die eerste moordenaar, maar ook ‘n landbouer en nie ‘n metaalwerker nie. Later lees ons dat ystergereedskap nie gebruik mag word om die klip vir die altaar te kap nie, want yster sou die altaar ontheilig - Exodus 20:25. Die Israeliete was bang vir die vyande met ysterwaens, want hulle het self nie ysterwaens gehad nie - Rigters 1:19, 4:3. Die vyand het toegang gehad tot tegnologie wat nie algemeen beskikbaar was nie. Met die bou van die tempel het die Heilige Gees oor mense gekom om hulle toe te rus met die nodige vaardigheid vir hulle spesifieke taak.
Nebukadnésar het ‘n droom gehad waar ‘n beeld se voete gedeeltelik van yster en van klei was. Deur menslike gemeenskap sal hulle probeer om yster en klei te meng, maar God sal ‘n rots stuur om alles te vernietig. Die Bybel sê ons is die klei en kan die yster na kunsmatige intelligensie (KI/“AI”) verwys? God sal dit vernietig aan die einde en Jesus, die rots, sal vir ewig regeer.
“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande 'n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot rots geword wat die hele aarde gevul het.
En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal 'n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — 'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees. Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie. Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel 'n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar 'n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mensehande 'n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”
DANIËL 2:34-35, 41-45 AFR53
Was Kain besete? Of was hy net jaloers, geldgierig en ‘n fabriseerder? Was Adam en Eva profeties en het hulle geweet hul eerste kind gaan sleg uitdraai. Het Kain se negatiewe naam sy toekoms beïnvloed? Was Kain net eenvoudig ‘n produk van sy ouers se sonde? Het Kain se geboorte iets te doen gehad met die eet van verbode vrugte?
Ek het aangeneem Kain se afstammelinge het in die vloed gesterf. Later het die Keniete in Kanaän gewoon - Génesis 15:19 - en God het die land aan Abraham beloof. Daar is skrywers wat dink Noag het met Naéma, ‘n familie lid van Kain, getrou. Is dit hoe die Keniete die vloed oorleef het?
“En Silla het ook gebaar, naamlik Tubal-Kain, 'n smid wat allerhande koper- en ysterinstrumente gemaak het. En die suster van Tubal-Kain was Naéma.”
GÉNESIS 4:22 AFR53
Ek het meer vrae as antwoorde, maar dit laat ‘n mens dink.
Abel: Strong’s H 1893 - oggend mis
BDB Lexicon: asem
Set: Strong’s H 8352 - vasbeslote, toegestaan, herstel (“restitution”),
BDB Lexicon: vergoeding (“compensation”)
Daar word drie keer in die Nuwe Testament na Kain verwys - Hebreërs 11:4, 1 Johannes 3:12, Judas 1:11. Kain word onthou vir die slegte dinge wat hy gedoen het. Abel word onthou as ‘n geregtige man. Hy het ‘n kort lewe gehad wat soos die oggend mis verdywn het, maar ook was hy vol van God se asem. Set is gebore as ‘n nuwe eersgeborene nadat Kain gesondig het en Abel gesterf het. God het die bloedlyn herstel. Adam, die seun van God, en Set met sy nageslag is vir altyd opgeskryf in Jesus se geslagsregister.
“DIT is die stamboom van Adam. Die dag toe God Adam geskape het, het Hy hom gemaak na die gelykenis van God. Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is. Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy 'n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem. En die dae van Adam, ná die geboorte van Set, was agthonderd jaar. En hy het seuns en dogters gehad. So was dan al die dae van Adam wat hy geleef het, negehonderd-en-dertig jaar, en hy het gesterwe.”
GÉNESIS 5:1-5 AFR53
“die seun van Enos, die seun van Set, die seun van Adam, die seun van God.”
LUKAS 3:38 AFR53