AGAB EN ISÉBEL
- 8 minutes read - 1544 words1 Konings 16:29 - 1 Konings 22, 2 Konings 9-10.
Agab was koning oor Israel en Isébel was sy vrou. Agab het 22 jaar regeer oor Israel en hy het meer verkeerd gedoen as enige van die vorige konings. Ons is in die jaar 2022. Ek glo dis nodig dat ons hierdie jaar met Agab en Isébel moet afreken. Dis belangrik om te verstaan dat Agab en Isébel geval het in die tyd van Elía, maar die demoniese gees het bly leef. Eendag sal die gees finaal val wanneer die wêreld tot ‘n einde kom. Alles in die Bybel gebeur oor en oor. Salomo sê daar is niks nuuts onder die son nie. Die kerk van Thiatíre het ook ‘n probleem gehad met die Isébel gees.
“Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.”
OPENBARING 2:20-23 AFR53
Isébel was die dogter van die koning van die Sidoniërs. Agab het Baäl begin dien, voor Baäl neergebuig en selfs ‘n huis en ‘n altaar gebou vir Baäl in Samaria. Agab het ook ‘n heilige boomstam (of ‘n Asjéra/Astártes) gemaak. Isébel het Agab verlei om al hierdie gruwelike sondes te doen (1 Konings 21:25). Isébel het God se profete doodgemaak (1 Konings 18:4). Agab en sy familie het nie God se gebooie (Exodus 34:12-15) nagekom nie en Baäl gevolg (1 Konings 18:18-19). Hulle het 450 profete van Baäl gehad en 400 profete van Asjéra wat by Isébel se tafel geëet het. Asjéra was ‘n Kanaänitiese godin en standbeelde en heilige boomstamme is vir haar opgerig. Dit was moontlik ‘n nabootsing van die boom van die lewe en Eva in die Tuin van Eden. Asjéra was beskou as die moeder-godin en die ma van Baäl. Op hoë plekke waar hul God behoort te aanbid het die Israeliete Baäl (Zeus/Jupiter) aanbid in tempels en selfs hul kinders aan Baäl geoffer (Openbaring 2:13, Jeremia 19:5). Die offer van ‘n eersgeborene seun aan Baäl was ‘n nabootsing van Abrahan wat Isak moes offer. Ons weet dat God ‘n ram gestuur het en Isak se lewe is gered. Dit het alles gedui op die koms van Jesus wat ons red. Diegene wat die valsgod Baäl aanbid het hul eersgeborenes geoffer. Eersgeborenes het ‘n belangrike rol gehad in die Bybel se tyd. Vandag sterf baie eersgeborenes deur aborsies. Dit is ‘n moderne vorm van Baäl aanbidding, Worldometer hou telling van die getal aborsies. Daar was reeds 1,6 miljoen aborsies in die eerste twee weke van 2022. Kinders en ‘n nageslag is ‘n geskenk van God. Die Israeliete is gewaarsku om nie dooie standbeelde en heilige bome te aanbid nie (Deuteronómium 16:21-22). Hulle is ook gewaarsku om nie hul kinders te offer nie.
Die Israeliete het ‘n verbond met God gehad. Hulle volg Hom en Hy sorg vir hulle. Ons het deur Jesus ‘n nog beter verbond met God. Die aardse huwelik is ook ‘n verbond. Die Bybel gebruik dikwels die woord “hoereer” wanneer die Israeliete vals gode aanbid het. Ons is die bruid van Christus en as ons ander dinge voor God plaas “hoereer” ons. Die Bybel sê Isébel het Agab verlei om vals gode te aanbid en 900 jaar later sê God het Isébel steeds mense verlei om te “hoereer” en afgodsoffers te eet. Isébel beïnvloed of beheer dus mense om ander dinge meer belangrik as God te maak. As jou vertroue in jou werk, jou familie, jou sport, stokperdjies, die wetenskap, jou regering, jou dokter meer as in God is, het jy ‘n probleem.
Die Isébel gees kan deur vroue sowel as mans werk. Geestelike hoereerdery gaan dikwels gepaard met fisiese hoereerdery (seksuele sonde en huweliksontrou). Daar kan nie ‘n gesonde huwelik tussen 2 mense wees waar ‘n beherende gees is nie. Jesus moet jou eerste liefde bly. Die Heilige Gees moet jou leiding gee. Kyk na die laaste 2 jaar en jy sal ‘n beherende gees raaksien. Die regering, die media, mediese dokters, jou werk en die gewone ou op straat wou vir ons besluit hoe ons moet leef. Sosiale media wil besluit wat jy mag pos en wat nie. God wil nie hê dat mense ons moet beheer nie en God wou ons nog nooit beheer nie. Hy het vir ons vrye wil gegee om Hom te volg en besluite te neem. Die Heilige Gees gee vir ons selfbeheersing as ‘n vrug van God se Gees. As mense probleme ondervind met selfbeheersing is dit moontlik dat die Isébel gees iets daarmee te doen het.
Aan die eenkant sien ons die Isébel gees in mense wat alles en almal wil beheer en aan die anderkant sien ons ‘n ernstige gebrek aan selfbeheersing in mense. Agab wou ‘n spesifieke stuk grond besit. Toe Nabot nie sy wingerd aan Agab wou verkoop nie het Agab soos ‘n bedorwe brokkie in sy bed geklim en geweier om te eet. Agab het soos ‘n selfsugtige kind reageer. Agab het gedink hy is die slagoffer. ‘n Volwasse persoon sal vrede maak met die situasie en verstaan waarom Nabot nie sy erfporsie wou verkoop nie. Agab kon sy groentetuin op ‘n ander plek gemaak het. Beherende Isébel het Nabot laat doodmaak om die grond aan egosentriese Agab te gee. Mense wat opstaan vir hulself of vir wat reg is, word stilgemaak. Ons sien dit daagliks gebeur. Agab en Isébel se huwelik was in satan se oë suksesvol, maar daar was niks wat God in ‘n huwelik wou hê nie. God wil hê dat 2 mense mekaar nader aan Hom moet bring.
Isébel noem haarself ‘n profetes m.a.w. sy wil vir ander vertel wat om te doen. Wanneer God iemand aanstel as profeet moet hul God se stem wees. Isébel bring dus satan se stem na mense. Satan wil jou erfporsie en jou kinders steel. Isébel het die profete laat doodmaak sodat haar stem duidelik gehoor kon word. Dis wat die media en baie regerings nou doen, maar ons weet daar is meer profete as ooit te vore, wat God se woord bring. Isébel wil vrees bring; selfs Elía het gaan wegkruip. Wanneer mense vol vrees is word hul makliker beheer. Kyk net terug na die laaste twee jaar. Geloof in God hou vrees weg uit jou lewe (2 Timótheüs 1:7, 1 Johannes 4:18, Johannes 14:26-27). Jy is veilig in die skaduwee van die Allerhoogste (Psalms 91).
Eienskappe van iemand met ‘n Isébel gees:
⁃ Dis ‘n oorheersende beherende, gees. Dit is ‘n demoniese gees en baie meer as net iemand met ‘n sterk persoonlikheid.
⁃ Of jy sien dit in iemand wat geen selfbeheer het nie. So ‘n persoon word geheel en al beheer deur hierdie demoniese gees. Dis asof die persoon glad nie kan dink vir hulle self nie. Hierdie is wat die wêreld as ‘n “swak persoon” sal beskryf en word soms die Agab gees genoem.
⁃ Abnormale selfsug, wat selfs sal doodmaak. Die “eie ek” is al wat van belang is.
⁃ Irrasionele vrees, want daar is geen vertroue in God nie.
⁃ Dit gaan gewoonlik gepaard met seksuele sonde en ontrou/egbreuk.
⁃ Die doodmaak of seermaak van kinders is ook deel van Isébel se agenda.
⁃ Die mense kan selfs godsdienstig wees, maar geen vrugte van die gees is sigbaar nie. Hulle groei ook nie geestelik nie weens ‘n harde hart (Galásiërs 5:16-26). Isébel is selfs in die kerk, in die regering en in groot maatskappye.
God wil vir jou en jou kinders ‘n erfporsie nalaat. Agab en Isébel moes sterf om ‘n einde aan hul beheer oor die Israeliete te bring. Die profete van Baäl moes ook uitgeroei word. Roe vs. Wade wat aborsies (Baäl aanbidding) begin toelaat het in die VSA word gedurig bevraagteken in die hof. Die wêreld sê dis jou liggaam jy kan kies of ‘n ander lewe belangrik is. God sê daardie baba is ‘n geskenk van Hom en jou erfdeel. God gee almal wat deur Isébel beheer word ‘n kans om na Hom te draai en hul lewens te verander. Ek glo ons gaan hierdie jaar ‘n einde aan die huidige beherende gees sien. Aborsies gaan afneem en mense gaan tot bekering kom. Ek glo baie mense gaan vir die eerste keer God sien as die liefdevolle Vader wat Hy is. As jy ander beheer of deur ander beheer word, draai na Jesus, laat die Heilige Gees jou lei om te verander. Ons kan bid vir ‘n einde van hierdie beherende gees en dat mense se ore en oë oopgaan, hul bekeer en na God draai. Kry iemand om saam met jou te bid as jy probleme met hierdie gees het. Geen sonde of demoniese gees is sterker as Jesus nie. Jesus het gesterf en reeds betaal vir elke sonde.