Alles wat goed is kom van God
- 2 minutes read - 252 words“Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.”
JAKOBUS 1:17 AFR53
Daar is ‘n neiging onder Christene om ander Christene aan te val oor hul musiek, geloof en gebruike. Wanneer mense bo-natuurlik genees word, word dit bevraagteken. Die musiek word gekritiseer omdat dit te vrolik of hard is. Musiek, genesing, dans, engele en alle goeie dinge kom van God.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
Omdat die vyand hierdie goed steel, verdraai en misbruik beteken dit nie ons moet opgee om deel daaraan te hê nie. Die slang het in Eden reeds die waarheid verdraai. Dawid het gedans voor God en het musiek gemaak om Koning Saul te kalmeer wanneer die duiwel hom gepla het. Jesus het genesing en vryheid gebring. Engele en wonderwerke was deel van Jesus se bediening.
Die Fariseërs en wetsgeleerdes wou nie die nuwe wyn wat Jesus gebring het ontvang nie. Oor die jare het baie kerke die tradisies van die Fariseërs begin volg in plaas van Jesus. Lees die Bybel en maak seker jou kerk volg die suiwer Woord. Die werking van die Heilige Gees is baie meer as net om in tale te praat. Engele, genesing, vrolike lofprysing, wonderwerke en dans is alles geskenke van God. Onthou wyn gaan in nuwe wynsakke (Lukas 5:37-38).