AZUSA STRAAT HERLEWING
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 448 wordsIn die vroeë 1900’s het God ‘n eenoog, seun van slawe - William J. Seymour - gebruik om herlewing te bring. As ‘n swartman kon Seymour nie Bybelskool bywoon nie. William moes in die gang, buite die oop deur, sit en leer by Charles Palmer.
William Seymour het werk as ‘n prediker gekry, maar na sy eerste preek het die leierskap hom uit die kerkgebou gesluit. Nie almal wou die waarheid hoor nie. Gelukkig het ‘n gemeentelid hom na sy huis genooi om daar te preek. Vinnig was die huis oorvol van mense wat honger was vir meer van Jesus. Strate ver was mense aangeraak deur Heilige Gees. Die polisie moes ingryp en William moes ‘n nuwe gebou vind. ‘n Stal was beskikbaar en Heilige Gees het William gelei na ‘n groep jong vroue wat gehelp het met die eerste huurgeld. Die jong vroue en die mense van die huiskerk moes die stal self skoonmaak en planke is bo-op kratte geplaas as sitplekke. Jesus is in ‘n nederige stal gebore en nederige William Seymour kon ook in ‘n nederige stal preek.
William het 3 keer ‘n dag gepreek en vir mense gebid. Hy sou uitkom met ‘n kartondoos op sy kop totdat Heilige Gees hom toestemming gegee het om die kartondoos te verwyder. God se heerlikheid het opgedaag en die gebou was dikwels gevul met ‘n sigbare wolk van God se heerlikheid. Vuurvlamme was sigbaar bo die nederige kerkgebou en dikwels het mense die brandweer gebel. Tieners het dikwels vir ander se genesing gebid. Die fokus was op God, Jesus en Heilige Gees; die fokus was nooit op Seymour en die mense wat God gebruik het nie. Die voorsangers en musikante het ook vir die mense gebid en wonderwerke gesien.
Charles Palmer het van sy studente na Azusa Straat gestuur om die salwing van die Heilige Gees te ontvang voordat hulle hulle eie bediening begin het. John G. Lake wat herlewing na Suid Afrika gebring het, het Azusa Straat besoek. Die heerlikheid van God was vir 3,5 jaar lank by Azusa Straat. Jesus het ook vir 3,5 jaar gepreek. Baie mense is genees en baie het hul eie bediening begin na Azusa Straat. Ek glo die Azusa Straat herlewing was ‘n perfekte voorbeeld van die “groter werke”. Die aandag was nooit op die gebou, die finansies of op William Seymour nie; die aandag was op God. William Seymour was nederig en gehoorsaam en tekens en wonders het gevolg.
“Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”
OPENBARING 2:7 AFR53