Baie dinge kan verander in ‘n dag
- 2 minutes read - 318 wordsAs jongman het Dawid naby God geleef. Dawid was die kleinste van Ísai se 8 seuns. Volgens die wêreld se standaarde was daar niks besonders aan Dawid nie. Hy was wel mooi van voorkoms met rooi hare. Dawid moes skape oppas en hy was die een wat kos vir sy broers moes neem.
“So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die Here het hulle nie uitgekies nie. Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.”
I SAMUEL 16:10-11 AFR53
“Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy 'n seun was — rooierig, met 'n mooi voorkoms.”
I SAMUEL 17:42 AFR53
Dawid het alleen in die veld geleer hoe om die skape te beskerm. Dit het handig gepas gekom toe hy teen Goliat moes veg. Moenie die dag van “klein dinge verag” nie – Sagaría 4:10. (“Don’t despise the day of small beginnings.”) Dawid het na 1 dag bekend geword. Vroue het gesing oor hom en hom met Koning Saul vergelyk.
Dawid het baie reg gedoen, maar soms het sy bekendheid na sy kop gegaan. Dawid het owerspel en moord gepleeg en ook die Israeliete laat tel – 2 Samuel 11, 24. Dawid moes leer om vergifnis te vra wanneer hy sonde gedoen het. Dawid het ook geleer om homself te versterk in die Here – 1 Samuel 30 - by Siklag toe dinge verkeerd loop.
Is jy besig om te leer en nader aan God te kom in jou stil seisoen?
Sal jy reg wees om jou “Goliat” te verslaan?
Wat sal gebeur as jy in net 1 dag bekend word?