BET-EL DROOM
- 6 minutes read - 1256 wordsEk het gedroom dat ons Vibracrete mure omgeval het. Ek was vir ‘n oomblik ontsteld, maar Bet-el was daar om te help. Toe ek weer kyk het ons nuwe glas mure gehad met glas houers vol vissies, hasies en hondjies.
Soms raak ons ontsteld wanneer die dinge waaroop ons vertrou skeefloop. Mure is tog daar om ons te beskerm. Wanneer ons vertroue in God is, het ons Bet-el (Huis van God) by ons. God kan die mure beter terug bou en selfs meer seëninge bring. Glas dui op geestelike visie. Jakob het ook ‘n ervaring gehad waar sy “mure omgeval” het.
Abraham het ‘n ontmoeting gehad met God by Bet-el. Abraham het God aanbid en vir Hom ‘n altaar opgerig by Bet-el. Daar was ‘n verbond tussen God en Abraham. Abraham sou God volg en God sou vir hom sorg.
Baie jare later het Abraham se kleinseun Jakob by Bet-el gekom. Jakob het sy pa Isak mislei om die eersgeborene seëning te ontvang. Jakob het sy land agtergelaat en moes reis na sy oom Laban. Jakob het in ‘n droom ‘n leer gesien wat tot in die Hemel strek. Engele het op en afgeklim op die leer. Die Here het bo aan die leer gestaan en Homself aan Jakob openbaar. God het ook ‘n verbond met Jakob gesluit. Jakob het die naam van Lus (amandelboom) verander na Bet-el (Huis van God). Die amandelboom vorm vroeg bloeisels en is simbolies daarvan om wakker te word. Jakob het geestelik wakker geword en besef hy is by die “Huis van God”. Die eerste kerk is daar by Bet-el gevorm uit ‘n intieme persoonlike ervaring met God. Jakob het daar ‘n belofte gemaak om ‘n tiende van sy inkomste aan God te gee, lank voor die wet ingestel is. Jakob wou ‘n suiwer liefdesoffer aan God bring omdat Hy ‘n openbaring van God se goedheid gekry het. Later het Jakob terugkeer na Bet-el met sy familie en vee en kon hy in vrede in Kanaan woon.
Wanneer ons ‘n intieme verhouding met Jesus bou, is Hy daar om beter mure te bou wanneer ou mure omtuimel. God het dit vir Jakob gedoen en Hy wil dit vir jou doen.
“Daarop verskyn die Here aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar 'n altaar vir die Here wat aan hom verskyn het. En daarvandaan het hy verder versit na die gebergte oos van Bet-el en sy tent opgeslaan tussen Bet-el aan die weste- en Ai aan die oostekant, en daar vir die Here 'n altaar gebou en die Naam van die Here aangeroep.”
GÉNESIS 12:7-8 AFR53
“En Abram was baie ryk aan vee, aan silwer en goud. En hy het van plek tot plek uit die Suidland getrek tot by Bet-el, na die plek waar sy tent in die begin gestaan het, tussen Bet-el en Ai, na die plek van die altaar wat hy vroeër daar gebou het. En Abram het daar die Naam van die Here aangeroep.”
GÉNESIS 13:2-4 AFR53
“En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”
GÉNESIS 28:12-22 AFR53
“DAARNA het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar 'n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau. Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar 'n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het. Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is. En toe hulle weggetrek het, kom daar 'n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie. So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is — dit is Bet-el — hy en al die mense wat by hom was, en hy het daar 'n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het. En Debóra, die oppasser van Rebekka, het gesterwe, en sy is begrawe onderkant Bet-el, onder die eikeboom. En hulle het dit genoem: Eik van geween. Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom; en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. 'n Nasie, ja, 'n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom. En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee. Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het. En Jakob het 'n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, 'n gedenksteen van klip, en daarop 'n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi. En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem.”
GÉNESIS 35:1-15 AFR53