Betésda en die Skaapspoort
- 2 minutes read - 342 words“En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort 'n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. Daarin het 'n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. Want 'n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.”
JOHANNES 5:2-4 AFR53
Die eerste ding wat ek raaksien is dat God se genade en genesing reeds beskikbaar was voor Jesus. Ongelukkig kon slegs die eerste een wat in die water ingaan genees word. Die res moes wag om te sien of hulle ‘n volgende keer genade en genesing sou vind. Jesus het dit alles verander toe Hy op die Sabbat ‘n man genees het. Vyf is die nommer van genade en die gebeurtenis word opgeskryf in Johannes 5 en by ‘n plek met 5 pilare. Betésda beteken ook “huis van genade” in Hebreeus. Genesing en genade was toe beskikbaar vir almal deur Jesus.
[Bet(h) beteken “huis”. Betésda beteken “huis van genade”.]
Betésda was by die Skaapspoort geleë. Skape is deur hierdie hek gebring wanneer hulle geoffer moes word. Vandag word dit die Leeupoort of die “St Stephens’s Gate” genoem. Stéfanus is in die omgewing gestenig. Die Skaapspoort is ook die begin van die Via Dolorosa (Jesus se lydingsweg) wat deur die Moslem kwartier loop. Jesus het deur dieselfde poort geloop as wat die skape wat geoffer is, moes loop. Jesus was die finale Pasgalam. Jesus is die Lam, maar Jesus is ook die Leeu van Juda. Legende vertel dat Suleiman ‘n droom gehad het waar hy deur wilde diere opgevreet is omdat hy nie die mure van Jerusalem laat herbou het nie. As herinnering van sy droom het hy 4 leeus in die ontwerp ingesluit en die mure is voltooi in 1538-39.
Vandag weet ons dat ons slegs deur genade gered word en Jesus het vir elke sonde en siekte betaal.