BID VIR DIE KINDERS
- 2 minutes read - 417 wordsEk het verlede nag ’n droom gehad waar ek op ’n plaas woon. Ons mag nie klein boompies geplant het of laat groei op die plaas nie. Wanneer daar wel klein boompies was moes hul met gif bespuit word.
’n Plaas is ’n plek waar mens ’n oes verwag, maar nou wou hulle ons stop om meer bome te plant. Satan wil nie hê ons moet ’n oes inbring nie. Kyk om jou rond hoeveel mense woon op die strate omdat hul werkloos is. Satan wil ons ook probeer stop om ’n geestelike oes in te bring. Hy wil nie hê ons moet die Woord versprei en mense moet tot bekering kom nie. Satan wil ons stilhou en isoleer van ander mense.
Klein boompies stel ook kinders of jongmense voor. As jy na Worldometer kyk sal jy sien dat daar daagliks 125 000 aborsies gedoen word. Hierdie jaar is reeds 31,7 miljoen babas wêreldwyd geaborteer en soos jy kyk sien jy hoe die nommers toeneem. God se Woord sê moenie moordpleeg nie, maar dit is op satan se agenda.
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
Gif in ’n droom kan ook leuens voorstel in ’n droom. Ons kinders word leuens gevoer in baie skole i.p.v God se Woord. Baie jongmense glo nie dat die huwelik heilig is tussen ’n man en ’n vrou nie. Jy kan nou self kies wat jou geslag is.
“Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”
SPREUKE 22:6 AFR53
“Train up a child in the way he should go: And when he is old, he will not depart from it.”
Proverbs 22:6 KJ
Satan weet wanneer hy die kinders in sy nette het, het hy die volgende generasie in sy nette vasgevang. Leer jou kinders van Jesus, moenie dit aan die kerk of skool oorlaat nie. Ongelukkig gebruik satan ander mense om sy vuilwerk te doen. Jou kind is jou naaste sendingveld.
“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.” LUKAS 18:16 AFR53
Kinders is ’n geskenk van God en Jesus het gesê die kinders is belangrik vir Hom. Kom ons maak seker die volgende generasie ken God. Bid vir ons kinders dat hulle Jesus werklik sal ken.