BÍLEAM
- 4 minutes read - 811 wordsNúmeri 22-24, 31:8,16.
Josua 13:22, 24:9-10
Miga 6:5
Judas 1:11
2 Petrus 2:15
Openbaring 2:14
Deuteronómium 23:3-5
Númeri 22
Balak, die seun van Sippor en die koning van Moab, het gesien hoe die Israeliete die Amoriete verslaan het. Hy het bang geword omdat daar so baie Israeliete was. Balak het Bíleam laat roep om die Israeliete te vervloek. Balak beteken “verwoesting”. Sommige bronne reken Bíleam beteken “nie van die mense nie”, hy was ‘n uitlander van Mesopotamië. Ander sê Balaam (engels vir Bíleam) is afgelei van Baäl, wat “heer van die mense”, “vraat”of “verwoester” beteken.
God het dit duidelik gemaak dat die Israeliete reeds geseën is en dat Bíleam hulle nie mag vervloek nie (vers 12). Balak was ontevrede met Bíleam se antwoord en het weer boodskappers na Bíleam gestuur. Bíleam het volgehou dat hy nie vir rykdom aan God se Woord ongehoorsaam kan wees nie. Bíleam het besluit om weer vir God te vra of hy die Israeliete kon seën.
“En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen. Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab. Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die Here het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was.”
NÚMERI 22:20-22 AFR53
Bíleam het weer gevra om saam te gaan en die keer het God toestemming gegee. Soms gee God in wanneer ons aanhou vra, maar daar is altyd nagevolge. Ons sien dit ook in Ps 81:12-13 en Jesaja 66:3-4.
“Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel 'n maerte gestuur.”
PSALMS 106:15 AFR53
God stuur dan Sy engel om Bíleam te laat verstaan dat Hy ongelukkig is met Bíleam se rebellie. Bíleam sien nie die engel nie, maar die donkie sien wel die engel en die donkie begin selfs praat met Bíleam. Selfs die donkie was ‘n beter profeet as Bíleam. Eers daarna kon Bíleam die engel raaksien. Bíleam het nou ‘n geleentheid gehad om vergifnis te vra en God heelhartig te volg. Ongelukkig het hy nie tot inkeer gekom nie.
Númeri 23
Bíleam het op die hoogte waar hulle Baäl aanbid het die ware God aangeroep. Toe sê Bíleam hulle moet 7 altare bou met offers. Die Israeliete moes net 1 altaar bou en nie 7 nie. Sewe beteken “voltooi”, “sigbare teenwoordigheid van God” en verwys na die ware God. Baie vals godsdienste het rituele gehad waarin hulle die afgode probeer paai of oorhaal het om hulle goedgesind te wees. Bíleam het dus omkoop altare aan God laat bou. Met die 7 altare wou hy God oorhaal om Sy woord te verander sodat Bíleam die Israeliete kon vervloek. Na die derde mislukte poging het Bíleam besef God gaan nie Sy plan verander nie.
“God is geen man dat Hy sou lieg nie; of 'n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hý iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?”
NÚMERI 23:19 AFR53
Númeri 24
Vir die eerste keer het Bíleam met geestelike oop oë gesien en sonder rituele met God gepraat. Balak was baie ontsteld want Bíleam het 3 keer die Israeliete geseën. Ongelukkig het Bíleam steeds nie tot inkeer gekom nie.
Númeri 31:8, Josua 13:22
Bíleam is deur ‘n swaard dood toe Moses 12 000 Israeliete gestuur het om wraak te neem teen die Midianiete.
Judas 1:11, 2 Petrus 2:15 -16 en Openbaring 2:14 noem Bíleam ‘n vals profeet. Hy word waansinnig en ‘n struikelblok genoem. Hy het meer sonde gedoen en nie tot inkeer gekom nie en het ook ander laat sondig.
Bíleam se profesieë was 100% akkuraat. Deuteronómium 18:22 sê dit is hoe ons toets vir ‘n vals profeet, maar sy karakter was nie foutloos nie.
God sien die hart en Bíleam se motiewe was verkeerd. Hy wou die koning gelukkig maak en daarom wou hy hê God moes Sy plan verander. Hy het die koning bo God geplaas. Bíleam wou wêreldse aansien en rydom hê.
‘n Donkie het beter geestelike sig as Bíleam, die profeet gehad. Bíleam se eiewilligheid het hom blind gemaak vir God se wil.
Lesse om te leer uit Bíleam se verhaal:
Ons moenie vir God probeer omkoop nie.
God mag dalk vir jou gee wat jy aanhou vra, maar daar gaan nagevolge wees.
Wees versigtig vir vals profete, want vals profete kan steeds betroubaar profeteer.
“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
MATTHÉÜS 24:24 AFR53