BOU VAN DIE TEMPEL
- 11 minutes read - 2291 wordsDie Tempel - Beth/Beit Yahweh - Huis van God
Skrywers verskil oor die datums waarop alles gebeur het. Veral wanneer dit kom by die bou van die tweede tempel. Ek het die name van die vyandige konings gevolg tussen die verskillende Bybelboeke om te probeer verstaan wat gebeur het.
Die eerste tempel (957 - 586 vC):
1 Konings 6-9
1 Kronieke 28-29
2 Kronieke 3-8, 36
Die eerste tempel is deur Salomo gebou en dit het 7 jaar geneem om te bou. Die tempel is in die sewende maand ingewy. Dawid het die begeerte gehad om ‘n tempel vir God te bou. Omdat hy so baie oorlog gevoer het, het God verkies dat Dawid se seun die tempel bou. Salomo het die tempel gebou 480 jaar na die Israeliete se trek uit Egipte. Die Heilige Gees het oor die mense gekom sodat hulle die nodige vaardighede kon hê om die tempel presies in te rig volgens God se instruksies. Die tempel was vol duursame materiale wat geskik was vir ons Koning. In die Allerheiligste was die verbondsark. Slegs die hoëpriester kon in die Allerheiligste ingaan. God het elke jaar op Versoeningsdag (Yom Kippur) op die versoendeksel (mercy seat) verskyn. Ons weet God se heerlikheid het verskyn met die inhuldiging van die tempel. Die tempel is vernietig deur Nebukadnésar- 2 Konings 25:8-10.
Die tweede tempel (518 vC - 70 nC):
2 Kronieke 36
Esra 1-8
Nehemía 1-7
Sagaría 1
Haggai 1-2
Daniël 5, 9-10
Gedurende die 70 jaar van die babiloniese ballingskap was daar nie ‘n tempel in Jerusalem nie. Esra vertel hoe God koning Kores (Cyrus) van Persië se hart aangeraak sodat hy die mense laat terugkeer het na Jerusalem om die tempel te bou in ongeveer 538/9 v.C. Jesaja het profeteer dat Kores toestemming sal gee dat die Hebreërs die tempel kan bou - Jesaja 44:28, 45:1-16. Kores het selfs die voorwerpe wat Nebukadnésar uit tempel verwyder het teruggegee. Serubbábel het begin om die tweede tempel te bou. Ongelukkig het hy baie teenstand ervaar en nadat die fondamente gelê is het die bouery gestop.
“Toe het die werk aan die huis van God wat in Jerusalem is, opgehou; en dit is gestaak tot op die tweede jaar van die regering van Daríus, die koning van Persië.”
ESRA 4:24 AFR53
Koning Nebukadnésar van Babel het die eerste tempel vernietig. Babel word ook land van Sínear of land van die Chaldeërs genoem.
Nebukadnésar se seun - Koning Béltasar van die Chaldeërs - het uit die tempel se goue en silwer bekers gedrink. Na sy dood is die koninkryk van die Chaldeërs verdeel tussen die Meders en Perse.
Jeremia het profeteer dat die Meders Babel sal inneem.
“Maak skerp die pyle, vat die skilde! Die Here het die gees van die konings van Medië opgewek; want sy voorneme is teen Babel om hom te verwoes; want dit is die wraak van die Here, die wraak van sy tempel. Hef 'n banier op teen die mure van Babel, versterk die wagposte, sit wagte uit, hou hinderlae klaar; want soos die Here Hom voorgeneem het, so het Hy gedoen wat Hy oor die inwoners van Babel gespreek het.”
JEREMIA 51:11-12 AFR53
Konings van Persië:
1. Kores (Cyrus)
2. Die Meder Darius, seun van Ahasvéros
3. Artasásta
“En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel al die dae van Kores, die koning van Persië, tot op die regering van Daríus, die koning van Persië. En onder die regering van Ahasvéros, in die begin van sy regering, het hulle 'n aanklag geskrywe teen die inwoners van Juda en Jerusalem. En in die dae van Artasásta het Bislam, Mítredat, Tábeël en sy ander partygenote aan Artasásta, die koning van Persië, geskrywe; en die skrif van die brief was Aramees geskrywe en in Aramees vertaal.”
ESRA 4:5-7 AFR53
Ons lees in Daniël 9 hoe Daniël die openbaring gekry het dat die 70 jaar verby was en dat die tweede tempel gebou moes word. Daniël het die professie van Jeremia gelees - Jeremia 25:12-13. Hy het dit met koning Darius gedeel wat toestemming gegee het dat die bouwerk kon voortgaan. Die profeet Haggai het ook profeteer dat Serubbábel die tempel moes bou. Die profeet Sagaría het ook gepraat oor die 70 jaar van ballingskap en daarna het hy profeteer dat die tempel gebou moes word. Seubbábel het later voortgegaan met die bouery wat hy vroeër begin het.
“Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die Here aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die Here van die leërskare. Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot 'n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! En die woord van die Here het tot my gekom en gesê: Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi; dan sal jy weet dat die Here van die leërskare my na julle gestuur het. Want wie verag die dag van klein dinge, terwyl daardie sewe — die oë van die Here wat die ganse aarde deurloop — met blydskap die skietlood aanskou in die hand van Serubbábel?”
SAGARÍA 4:6-10 AFR53
Koning Artasásta het vir Nehemía (die koning se skinker) en Esra (‘n skrifgeleerde en priester) toestemming gegee om terug te keer na Jerusalem. Hy het vir Esra toegelaat om goud en silwer saam te neem. Esra het in die sewende jaar (Esra 7:7) teruggekeer en Nehemía in die twintigste jaar (Nehemía 2:1) van Artasásta se regering. Nehemía was 13 jaar later verantwoordelik vir bou van die stadsmure. Daar het 42360 Hebreërs teruggekeer na Israel. Die Bybel verwys glad nie na die verbondsark nie en skrywers dink nie die tweede tempel was so deftig soos die eerste tempel nie. Die professie oor ‘n groter heerlikheid in Haggai 2 verwys moontlik na die toekoms en nie na die tweede tempel nie. Koning Herodes het ook later aan die tweede tempel herstelwerk gedoen. Dit wil voorkom of Herodes voor Jesus se geboorte die werk begin het en eers na Sy geboorte die werk aan die tempel voltooi het. Herodes het moontlik 46 jaar lank aan die tempel gewerk.
“Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig? Maar Hy het oor die tempel van sy liggaam gespreek.”
JOHANNES 2:19-21 AFR53
Die TPT (The Passion Translation) noem ook dat ons liggame 46 chromosome in elke sel het. Die 46 jaar was dus ‘n skaduwee en verwys na ons liggame wat ook ‘n tempel is. Toe Jesus gesê het Hy sal die tempel in drie dae sal oprig het Hy na Sy liggaam en opstanding verwys. Vroeër in Johannes 2 het Jesus na die tempel verwys as Sy Vader se huis, maar later noem Hy Sy liggaam ‘n tempel.
Die derde tempel:
Ons weet ook dat die Jode al jare lank beplan om die derde fisiese tempel te bou. Hulle het reeds meeste van die inhoud gereed om binne die tempel te plaas. Vir profesie om vervul te word moet daar ‘n derde tempel wees wat die Antichris gaan ontheilig - Daniël 8:13, 9:27, 11:31, 12:11, Openbaring 13:6. Daniël het reeds hieroor profeteer in die Ou Testament en Openbaring bevestig dit. Die ontheiliging sal plaasvind gedurende die 7 jaar tribulasie periode. Die moskee is gebou op die berg waar die tempel gebou moet word. Sommige skrywers dink dat die derde tempel in die eerste helfte van die tribulasie gebou sal word.
Eségiël se tempel:
Eségiël 40-48
Eségiël (622-570 vC) beskryf ‘n tempel wat nooit gebou is nie. Die tempel is groter as Salomo se tempel. Miskien moes die plan gebruik word om die tweede tempel te bou. Miskien is dit die planne vir die derde tempel. Sommige skrywers reken dat daar nie voldoende inligting is om hierdie tempel te bou nie. Ander reken weer die beskrywing verwys moontlik na die tempel wat in Jerusalem sal wees gedurende die 1000 jaar Messiaanse vrederyk. God se heerlikheid het in hierdie tempel ingetrek. Die tempel maak voorsiening vir slagoffers. Christene weet dat Jesus ons finale Pasga-lam was en ons hoef nie meer slagoffers te bring nie. Eségiël noem ook dat die feeste gehou word. Sagaría 14 bevestig dat die Huttefees gehou sal word in die Messiaanse vrederyk. Eségiël verwys na ‘n vors/prins wat deur die ooste ingaan wat my baie aan Jesus herinner. Die area strek vanaf die spruit van Egipte. Die land wat God aan Abram belowe het sou strek vanaf die rivier van Egipte - Génesis 15:18, Eségiël 47:19. Geen deel van Egipte het al ooit aan die Hebreërs behoort nie. Eségiël sê verder dat die naam van die stad “Die Heer is daar” sal wees. Dit klink vir my na ‘n tempel vir die toekoms.
Die Nuwe Jerusalem:
Die Nuwe Jerusalem sal nie ‘n gebou as tempel hê nie. God sal die tempel wees.
“En 'n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam. En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.”
OPENBARING 21:22-24 AFR53
Die derde geestelike tempel:
Sagaría het profeteer dat Jesus die tempel sal bou:
“en sê vir hom dit: So spreek die Here van die leërskare: Kyk, daar kom 'n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die Here bou. Ja, Hý sal die tempel van die Here bou, en Hý sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy 'n priester wees op sy troon, en die raad van vrede sal tussen hulle twee bestaan.”
SAGARÍA 6:12-13 AFR53
“Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.”
JOHANNES 14:23 AFR53
In Johannes 2 het Jesus na Sy liggaan verwys as die tempel terwyl die tweede tempel nog bestaan het. In Johannes 14 sê Jesus dat Hy en die Vader by ons wil kom bly. Dit beteken ek en jy is God se derde tempel op aarde. Die godsdienstige mense het God se woonplek misbruik en gevolglik het ongeskoolde vissersmanne God se woonplek/tempel geword. Die tempel gebou was altyd baie belangrik vir die Fariseërs en skrifgeleerders. Hulle het egter nie God se liefde in hulle harte gehad nie. Ons liefdevolle Vader het dit goed gedink om ons te gebruik as tempel met die nuwe verbond.
“Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie.”
HANDELINGE 17:24 AFR53
“Maar die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie, soos die profeet sê: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie? Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.”
HANDELINGE 7:48-51 AFR53
“Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.”
I KORINTHIËRS 3:16-17 AFR53
“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot 'n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot 'n woning van God in die Gees.”
EFÉSIËRS 2:19-22 AFR53
“Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis; want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God. En Moses was wel getrou in sy hele huis as 'n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.”
HEBREËRS 3:3-6 AFR53
Ons het vroeër gesien dat daar 46 jaar gebou is aan die tweede tempel wat moontlik profeties was van die mens se liggaam wat 46 chromosome bevat. Die mens se liggaam word dus die tempel. Jesus se liggaam was die eerste geestelike tempel.
God woon nie in kerkgeboue nie.
God se tempel is heilig.
Jesus is die hoeksteen van die tempel.
God die Vader, Seun en Heilige Gees woon in Sy tempel.
Die inhoud van Salomo se tempel was geweldig waardevol. Jy is meer werd as enige aardse goed. Jesus het jou so lief dat Hy vir jou gesterf het.
Daar is baie onduidelikheid oor die verskillende tempels. Wat egter duidelik is, is dat ons tempels heilig moet wees vir die wederkoms.
“Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? “ Handelinge 7:49b