Christen vervolging
- 4 minutes read - 848 wordsBaie van die Nuwe Testament Christene het gesterf vir hulle geloof. Jesus het Sy volgelinge gewaarsku dat hulle vervolg sal word ter wille van Hom.
“Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot 'n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek. Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”
MATTHÉÜS 10:16-22 AFR53
Ons weet dat daar baie ernstige vervolging van Christene in sekere lande is. As jy kyk na Geopende Deure se lys van 50 mees vervolgde lande vind jy Noord-Korea bo-aan die lys, gevolg deur baie ander lande met vals godsdienste. Tot dusver was Christen vervolging nie ‘n groot probleem in tradisionele Christen lande nie. Ons weet die Jode word deur baie mense en lande gehaat omdat God hulle vanaf die begin uitverkies het. In God se oneindige liefde gee Hy vir elke ander nasie ook geleentheid om Sy kinders te word. Daarom kan ons nie verbaas wees dat Christene meer en meer vervolg word nie. Christene sal nie net deur die wêreld vervolg word nie, maar ook deur godsdienstige mense. Kyk maar net hoeveel mense draai teen jou wanneer jy vol van die Heilige Gees leef. God se Gees binne jou irriteer die duiwel binne ander.
“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”
JESAJA 5:20 AFR53
Die Bybel se Waarheid word nou haatspraak genoem. Ware liefde waarsku ander teen die verderf. Selfs Bybels word subtiel verander om mense se agendas te akkomodeer. Daar is nie geld vir elektrisiteit, skoon water en versorging van armes in ons land nie, maar daar is geld vir duiwelse agendas. Christene en kerke word bespot in wêreldse films. Jy sien nie wonderwerke op die voorblad van die koerant nie. Maar wanneer ‘n kerkleier droogmaak lees en hoor jy dit oral.
Paulus het sy geestelike seun Timótheüs bemoedig om sterk te bly tydens verdrukking. Ongeag die omstandighede moes Timótheüs getrou bly aan God en sy missie op aarde voltooi. Dit is presies wat ons nou moet doen.
“JY dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is; Ly dan verdrukking soos 'n goeie krygsman van Jesus Christus. Niemand wat 'n krygsman is, wikkel hom in die werksaamhede van die lewensonderhoud nie, sodat hy die een kan behaag wat hom vir die diens gewerf het. Onthou dat Jesus Christus, uit die geslag van Dawid, uit die dode opgewek is volgens my evangelie, waarin ek verdrukking ly tot die boeie toe soos 'n kwaaddoener; maar die woord van God is nie gebonde nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes, sodat hulle ook die verlossing wat in Christus Jesus is, kan verkry met die ewige heerlikheid. Dit is 'n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.”
II TIMÓTHEÜS 2:1, 3-4, 8-12 AFR53
“EK besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk: verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van 'n evangelis; vervul jou bediening.”
II TIMÓTHEÜS 4:1-5 AFR53
Niks is vir God ‘n verassing nie. Ons leef in ‘n tyd waar “die gesonde leer nie verdra word nie, waar mense se ore gestreel word en waar sekere leraars fabels vertel”. Al wat jy nou nodig het was reeds lank gelede in die Bybel opgeskryf. Klou vas aan die Jesus; Hy is die Waarheid.
“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.”
JOHANNES 14:6-7 AFR53