DAAR IS SLEGS EEN OPLOSSING VIR DIE DONKERTE
- 3 minutes read - 475 wordsOp die oomblik praat almal oor die walglike openingseremonie by die Olimpiese Spele. Verlede jaar was dit die Commonwealth Games en die Grammy’s wat ons boos gemaak het. Raak ons net vies of doen ons iets daaraan?
Jesus het 2000 jaar gelede reeds vir ons leer bid:
“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”
MATTHÉÜS 6:9-10 AFR53
Christene is God se arms en bene op aarde. Ons moet Sy koninkryk uitbrei en Hemel afbring aarde toe. Satan se koninkryk is duidelik sigbaar in die 7 berge van ons samelewing. Johannes het ‘n vrou gesien wat op ‘n rooi (simboliseer sonde) dier met 7 koppe (simboliseer berge) sit - Openbaring 17. Die 7 berge van samelewing word deur satan beheer.
Die 7 berge is:
1. die kerk,
2. ontspanning (sport en kunste),
3. regering,
4. familie,
5. ekonomie,
6. media en
7. onderrig.
Natuurlik is daar wonderlike kerke en families wat Jesus heelhartig volg, maar ongelukkig is daar ook wat deur die vyand beheer word. Sport, regering, ekonomie, media en onderrig word grotendeels deur die vyand beheer. Ons is nie verantwoordelik vir wat die wêreld doen nie. God sal hulle oordeel.
“Want waarom sou ek ook die wat buite is, oordeel? Oordeel julle nie die wat binne is nie? Maar die wat buite is, oordeel God. Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”
I KORINTHIËRS 5:12-13 AFR53
Ons het ook ‘n verantwoordelikheid. Terwyl ons stilsit raak alles donker. Donkerte is die afwesigheid van lig. Christene moet lig bring na die 7 berge van die samelewing. Elkeen van ons moet Jesus soek en ‘n intieme verhouding met Heilige Gees hê sodat ons rigting kan kry. As elke Christen hul roeping vind kan ons al 7 berge van die samelewing verander. Dit is die enigste oplossing. Stilsit en oordeel gaan niks verander nie. Vind Jesus, vind jou roeping en neem aksie.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”
JESAJA 60:1-3 AFR53
“Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”
MATTHÉÜS 5:14-16 AFR53