DAN
- 6 minutes read - 1227 wordsDan - Strong’s H1835 - regter
“En Bilha het swanger geword en vir Jakob 'n seun gebaar. Toe sê Ragel: God het aan my reg verskaf en my ook verhoor en my 'n seun gegee. Daarom het sy hom Dan genoem.”
GÉNESIS 30:5-6 AFR53
Dan was 1 van die 12 seuns van Jakob en 1 van die stamme van Israel.
Daar was ook ‘n stad met dieselfde naam. Dan was geleë op die noordelike grens van Israel (1 Konings 4:25) naby die berg Hermon en langs ‘n sytak van die Jordaanrivier. Openbaring 7 noem die name van die getroue stamme, maar maak egter geen melding van Dan se stam nie. Ons kan dus aanneem dat die stam van Dan ontrou aan God was. Dan was die tweede grootste stam.
“hulle geteldes van die stam van Dan was twee-en-sestigduisend-sewehonderd.”
NÚMERI 1:39 AFR53
“en noem die stad Dan, na die naam van hulle vader Dan wat vir Israel gebore is; maar tevore was die naam van die stad Lais (leeu)”.
RIGTERS 18:29 AFR53
Jakob se seëninge oor Dan:
“Dan sal aan sý volk reg verskaf net soos enigeen van die stamme van Israel. Laat Dan 'n slang wees op die weg, 'n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskene byt, sodat sy ruiter agteroorval. Op u verlossing wag ek, Here!”
GÉNESIS 49:16-18 AFR53
Moses:
“En van Dan het hy gesê: Dan is 'n jong leeu wat uit Basan uitspring.”
DEUTERONÓMIUM 33:22 AFR53
“EN die seun van 'n Israelitiese vrou — maar hy was die seun van 'n Egiptiese man — het uitgegaan tussen die kinders van Israel in; en die seun van die Israelitiese vrou en 'n Israelitiese man het met mekaar geveg in die laer. Toe het die seun van die Israelitiese vrou die Naam gelaster en gevloek. Daarom het hulle hom na Moses gebring. En die naam van sy moeder was Selómit, die dogter van Dibri, van die stam van Dan.”
LEVÍTIKUS 24:10-11 AFR53
Dan het sy erfdeel verloor en moes veg vir nuwe land -Josua 19:40-48.
“Maar die kinders van Dan het hulle grondgebied kwytgeraak; daarom het die kinders van Dan opgetrek en teen Lesem geveg en dit ingeneem en verslaan met die skerpte van die swaard en dit in besit geneem en daarin gewoon; en hulle het Lesem Dan genoem na die naam van hulle vader Dan. Dit is die erfdeel van die stam van die kinders van Dan volgens hulle geslagte; hierdie stede met hulle dorpe.”
JOSUA 19:47-48 AFR53
Dis moontlik dat Dan nie die vyand kon oorwin nie omdat hulle nie getrou aan God gebly het nie. Dan het dus nie hul regmatige erfdeel ontvang toe hulle Israel intrek nie.
“En die Amoriete het die kinders van Dan die gebergte in gedruk, want hulle het hul nie toegelaat om na die laagte af te kom nie; sodat die Amoriete verkies het om te bly woon in Har-Heres, in Ájalon en in Saälbim; maar die hand van die huis van Josef was swaar, sodat hulle dienspligtig geword het.”
RIGTERS 1:34-35 AFR53
Toe Debóra en Barak teen Kanaän veg het Dan se stam nie gehelp nie.
“…… en Dan, waarom vertoef hy by die skepe?….”
RIGTERS 5:17 AFR53
Simson se pa, Manóag, was uit die stam van Dan - Rigters 13-16. Die Filistyne het gedurig teen hulle geveg en ons weet Simson was geroep as rigter vir Israel. Simson het homself deur Filistynse vroue laat verlei en het in die tronk beland. Hy het gesterf na 20 jaar toe hy ‘n gebou op homself en die Filistyne laat inval het.
“En die vrou het 'n seun gebaar en hom Simson genoem; en die kind het groot geword, en die Here het hom geseën. En die Gees van die Here het hom begin drywe in die laer van Dan tussen Sórea en Estáol.”
RIGTERS 13:24-25 AFR53
In Rigters 18 lees ons hoe die stam van Dan vir Miga beroof van sy afgode. Hulle was dus ongehoorsaam aan God deur afgode te aanbid en dit is waarskynlik een van die redes waarom hulle weggelaat word in Openbaring 7.
“En hulle het vir hulle die gesnede beeld van Miga opgerig wat hy gemaak het, al die dae dat die huis van God in Silo was.”
RIGTERS 18:31 AFR53
In 1 Konings 12 bou Jeróbeam, die koning van die noordelike 10 stamme, 2 goue kalwers. Een is in Bet-el opgerig en die ander in Dan. Die noordelike 10 stamme is later verstrooi oor die aarde. Dit wil voorkom of die stam van Dan egter reeds vroeër verdwyn het aangesien 1 Kronieke 4-7 ook die stam van Dan uitlos. Die stam van Dan het waarskynlik getrou met sondige stamme en sodoende het hulle hul identiteit verloor.
“die seun van 'n vrou uit die dogters van Dan, maar wie se vader 'n man van Tirus is, wat verstaan om goud en silwer, koper, yster, klippe en hout, purperrooi, pers stowwe en fyn linne en bloedrooi stowwe te bewerk; en om allerhande figure uit te sny en om enige kunstige plan uit te dink wat aan hom opgedra word, saam met u kunstenaars en die kunstenaars van my heer, u vader Dawid.”
II KRONIEKE 2:14 AFR53
Amos en Jeremia se profesië oor Dan was negatief.
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here Here, dat Ek 'n honger in die land stuur, nie 'n honger na brood nie en nie 'n dors na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor. En hulle sal swerwe van see tot see en rondslinger van noord na oos, om na die woord van die Here te soek, maar hulle sal dit nie vind nie. In dié dag sal die mooi jongedogters en die jongmanne van dors beswyk — hulle wat sweer by die skuld van Samaría, en ook sê: So waar as jou god leef, o Dan! en: So waar as die weg van Berséba leef! En hulle sal val en nie weer opstaan nie.”
AMOS 8:11-14 AFR53
“Want 'n stem verkondig uit Dan en laat onheil hoor van die gebergte van Efraim af.”
JEREMIA 4:15 AFR53
“Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op 'n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking. Van Dan af word die gesnuif van sy perde gehoor, vir die geluid van die gerunnik van sy perde bewe die hele land; en hulle kom en eet die land op en sy volheid, die stad en die wat daarin woon. Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die Here.”
JEREMIA 8:15-17 AFR53
Eségiël verwys na Dan se grondgebied en dit lyk na ‘n hoopvolle toekoms.
“EN dit is die name van die stamme. Aan die noordekant langs die weg van Hetlon na die ingang van Hamat en Hasar-Enan aan die grens van Damaskus, na die noorde toe langs Hamat — hy moet die ooste- en die westekant hê — Dan een deel.
En naas die gebied van Dan, van die oostekant af tot by die westekant: Aser een deel.
En na die oostekant vierduisend-vyfhonderd el; en drie poorte, naamlik: die poort van Josef, een; die poort van Benjamin, een; die poort van Dan, een.
rondom agttienduisend el; en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die Here is daar!”
ESÉGIËL 48:1-2, 32, 35 AFR53