DERTIG SILWER SIKKELS
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 563 wordsVolgens die wet moes die eienaar van ‘n slaaf/slavin wat deur ‘n bees gestoot word dertig silwer sikkels ontvang, van die bees se eienaar. Die bees moes gestenig word. Die wet het die eienaar beskerm.
Sagaría het profeteer dat Jesus se waarde slegs dertig sikkels silwer sal wees. Die Fariseërs het die wet geken en Jesus se waarde gelykgestel aan ‘n halsstarrige bees. Nadat Jesus gevangene geneem is het Judas Iskariot berou gekry en die dertig silwer sikkels teruggegee aan die owerpriesters en ouderlinge. Dit was bloedgeld en hulle kon dit daarom nie in die skatkis plaas nie. Die dertig silwer sikkels is gebruik om ‘n stuk grond by ‘n pottebakker te koop en Judas Iskariot het daar gesterf. Die stuk grond is Bloedgrond genoem.
Jesus se waarde is baie meer as 30 silwer sikkels. Hy het Sy lewe gegee sodat ons nooit weer skuldoffers hoef te bring nie. Jesus is die enigste deur wat toegang gee tot die Vader. Hy is die enigste Een sonder sonde wat waardig is om die boek oop te maak en die 7 seëls te breek sodat ons die ewigheid kan beërwe - Openbaring 5.
“As die bees 'n slaaf of slavin stoot, moet hy aan hulle heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.”
EXODUS 21:32 AFR53
“Daarop sê ek vir hulle: As dit goed is in julle oë, gee dan my loon; en so nie, laat dit dan staan. Toe het hulle my loon afgeweeg: dertig sikkels silwer. Hierop sê die Here vir my: Gooi dit vir die pottebakker — die heerlike prys waarmee Ek deur hulle gewaardeer is! En ek het die dertig sikkels silwer geneem en dit in die huis van die Here vir die pottebakker gegooi.”
SAGARÍA 11:12-13 AFR53
“Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe. Toe is vervul wat gespreek is deur ***Jeremia, die profeet, toe hy gesê het: En hulle het die dertig silwerstukke geneem, die prys van die gewaardeerde wat hulle gewaardeer het vanweë die kinders van Israel; en hulle het dit gegee vir die grond van die pottebakker, soos die Here my beveel het.”
MATTHÉÜS 27:3-10 AFR53
*** Volgens die Griekse vertaling van Matthéüs was dit Jeremia se profesie, maar volgengs die Hebreeuse vertaling was dit Sagaría se profesie - TPT (The Passion Tanslation). Die Aramese vertaling gee nie die naam van die profeet nie.
“Hy het dan 'n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort; en dit het bekend geword aan al die inwoners van Jerusalem, sodat daardie stuk grond in hulle eie taal Akeldáma genoem is, dit is Bloedgrond.”
HANDELINGE 1:18-19 AFR53