Die Grootste Leuen
- 3 minutes read - 632 wordsDie grootste bloedlynvloek was oor Israel. A.g.v. hulle sonde wou hul nie Jesus aanvaar as hul redder nie. Die Jode se oë word toegemaak en die heidinne kry kans om Jesus te aanvaar. MAAR daar was altyd mense wat besluit om God te volg. Moses, Dawid, Josef, Gideon, Rut, Esther, Debóra en Daniël in die Ou Testament. Elía kla hy is die enigste een wat nie Baäl aanbid nie, God sê nee daar is nog 7000. (Rom 11:2-5) Baie mense voel alleen en dat hul die enigste is wat God aanbid… hier in SA sê ons, ons wens hier was so baie lekker kerke soos in die VSA. In die Nuwe Testament sien ons steeds die vloek, maar 3000 kom tot bekering met Pinkster toe die Heilige Gees uitgestort word. Paulus ‘n Jood kom tot bekering en in Rom 9-11 lees ons hoe hartseer Paulus is oor die Jode wat se oë toe is en uit werke en die wet hul redding wil bekom. Heidinne en ‘n groep Jode (dissipels) het tot bekering gekom. Die ander Jode se oë en ore was/is toe a.g.v bloedlynsonde. Hul glo die grootste leuen ooit, dat die Messias nog nie gekom het nie. Die vers wat nou baie Jode tot bekering bring was nog altyd in die Skrif.
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
JESAJA 53:5 AFR53
Vandag haat die wêreld steeds die land Israel. Dié wêreld het die insig om te verstaan dat God die land aan die Jode gegee het nie. Satan plant ‘n haat in mense se harte teenoor mense wat God volg , of dit nou Jode of Christene is. Die Bybel waarsku dat jou familie en vriende teen jou sal draai wanneer jy God heelhartig volg. (Mat 10:21-22, 34-38) Vir ons lyk die baie keer na ‘n ongegronde, irrasionele haat, maar onthou “die stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, magte, wêreldheersers van die duisternis en bose geeste in die lug”. (Ef 6) Satan haat God en omdat hy sy plek in die Hemel verloor het, wil hy nie hê ek en jy moet Hemel toegaan nie. As Christene sien ons so maklik die leuen wat die Jode en ongereddes glo, maar wat van die leuens wat ons steeds glo?
Wanneer jou oë en ore toe is a.g.v. sonde kan jy nie die waarheid sien en hoor nie. Die boek Judas in die Bybel bestaan uit 1 hoofstuk en 25 verse en is net 2 bladsye lank, maar leer vir ons so baie. Dis geskryf deur ‘n halfbroer van Jesus. Hy praat van “waterlose wolke”. Die doel van ‘n wolk is om water te versamel en dan reën te bring. Die doel van Godsdiens is om nader aan die Vader te bring sodat ons ‘n verskil aan hierdie wêreld kan maak voordat ons ons ewige rus in die Hemel kan vind. Wat is jou doel dan op aarde? (‘n Kort opsomming, soos ek dit verstaan)
- Aanvaar Jesus as jou enigste Redder. Ontvang die Heilige Gees en heers oor die aarde.
- Gaan heen vertel mense van Jesus, doop hulle, genees siektes en dryf duiwels uit.
- Jul sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom. Wanneer jul krag ontvang gaan heen en preek…..
As jy dit nie doen nie, maak dit jou ‘n waterlose wolk? Jy is geskape vir ‘n spesifieke doel. Jy is nog op hierdie aarde omdat jy nog dinge vir God kan doen. Glo jy die grootste leuen van vandag dat mense gered kan word en dan is God se genade so groot dat jy kan leef asof jy ongered is?