Die Groter Prentjie
- 4 minutes read - 691 wordsHier in Suid Afrika het baie van ons groot geword as Christene. Net soos ander mense as Jode of Moslems gebore is, is ons as Christene gebore. Dis ‘n algemene ding, in sogenaamde Christen nasies, dat dit net aanvaar word dat jy ‘n Christen is en dat dit nie enige ekstra aksie van jou vereis nie. Ongelukkig is dit ‘n leuen van satan om ons vasgevang te hou in ‘n rustige illusie waar jy dink jy hoef en kan niks meer doen nie. Om ‘n volgeling van Jesus te wees in die Nuwe Testament was’n persoonlike besluit en mense het dikwels alles opgegee om Jesus te volg.
“EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.”
LUKAS 9:23-24 AFR53
Kyk wat het Levi gedoen:
“EN ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en ’n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My. En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.”
LUKAS 5:27-28 AFR53
Die waarheid is dat jy gebore word as ‘n Suid-Afrikaner en nie as ‘n Christen nie. Dit is steeds ‘n persoonlike keuse om Jesus te volg. Nadat jy besluit het om Jesus te volg moet jy self besluit watter tipe verhouding wil jy met Jesus hê. Wil jy net ‘n “911 verhouding” met Jesus hê, waar jy net met Hom praat wanneer jy ‘n krisis ervaar? Of wil jy ‘n intieme verhouding hê, waar Jesus jou beste vriend word en jy alles saam met Hom doen? Ek hoor mense sê ander is “boring” of te godsdienstig as hulle graag van Jesus praat. Kom ons kyk na die groot prentjie. Jou lewe op aarde is so ongelooflik kort as jy dit vergelyk met die ewigheid. Jy gaan ‘n ewigheid in die Hemel of hel spandeer. Jesus het 2000 jaar gelede gesê Hy kom vinnig terug, want vir Hom voel 2000 jaar kort. Jy gaan nou met jou kort tydjie op aarde besluit waar jy ‘n ewigheid gaan deurbring. So neem die regte besluit.
Moenie dat klein goedjies jou verhinder om naby aan Jesus te leef nie. As iemand sleg bestuur oppad werk toe, spreek ‘n seëning oor hom uit en vergeet daarvan. Moenie dat ander mense jou dag bederf nie. Ek vind dat ek doelbewus, elke keer as iemand iets doen, wat my moontlik kan ontstel, moet teugsit en die persoon moet vergewe en van die insident moet vergeet. Ek kies om nie gedurig aanstoot te neem nie. Ek kies om God se vrede te ervaar in elke situasie.
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
JOHANNES 14:27 AFR53
Ek kies dat ander mense nie skeiding bring tussen my en God nie. Onthou in die mate wat jy ander vergewe, word jy weer vergewe deur God (Matt 6:14-15, Efés 4:17-32). Ek kies dat my gedagtes nie die duiwel se speelplek word nie. Ek weier om langer insidente oor en oor te laat afspeel in my kop. Ek herinner myself daaraan dat hierdie lewe op aarde in ‘n oogwink verby gaan wees.
“Kyk, U het my dae ’n paar handbreedtes gemaak, en my leeftyd is soos niks voor U nie; ja, as pure nietigheid staan elke mens daar! Sela.”
PSALMS 39:6 AFR53
“julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ’n damp wat vir ’n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.”
JAKOBUS 4:14 AFR53
‘n Baie beter lewe wag vir my as ek nou die regte besluite neem. Ek kies om daaraan te dink.
“Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is — watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”
FILIPPENSE 4:8 AFR53