Die Ontroue Bruid
- 4 minutes read - 640 wordsGod gebruik woorde wat ons gebruik tussen ‘n man en vrou om die slegte gewoontes van Sy mense, Israel en Juda te beskryf: hoereer, ontrou, skeibrief en owerspel.
“Maar soos ’n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here.”
JEREMIA 3:20 AFR53
Dit was ‘n skaduwee van wat later sal kom wanneer ons die bruid van Christus word. In die Ou Testament het God ‘n verbond met die volk Israel gesluit. Hy sou hul God wees en vir hulle sorg en hulle moet gehoorsaam wees aan Hom (Deuteronomium 28). Dit het begin met Abraham en is dan oorgedra van geslag tot geslag. Ongelukkig wou Israel nie die verbond nakom nie en het Israel verdeel in 2 stamme, Israel en Juda, as gevolg van hul sondes. In die Nuwe Testament het die Bruidegom aarde toegekom om te betaal vir al ons sonde. Dit het toegang gegee dat alle mense nou God kon volg en nie net die stam Israel nie. Onthou Petrus se visioen van ‘n laken, waar hy vleis van onrein diere kon eet, en waar God vir hom gewys het dat mense van alle nasies nou na God kon kom. Daarom kan almal vandag kies om die bruid van Christus te wees. Ongelukkig sien ons gereeld ‘n afgewaterde verbond. Ons verwag God moet steeds Sy deel van die verbond nakom, maar wat van die bruid se deel?
In vers 11 sien ons dat God sê dat wanneer Israel en Juda sonde gedoen het, het hul verskonings gemaak vir hul wangedrag. Hul moes verantwoordelikheid aanvaar en verander, maar hulle het nie. Hulle wou wat hul verkeerd doen regverdig. Hoe sal dit vandag klink?
- Almal maak so…
- Die lewe het so duur geraak….
- Ons is so besig en het nie tyd nie….
- Ek wil nie dink voor ek praat nie….
- Dis net so maklik…
- Covid…..
- Sy slegte ouers het gemaak dat hy nou ‘n slegte man en pa is.
- Die kinders moet mekaar besig hou of tv kyk, want die ouers is moeg.
- Hulle het seergekry en daarom vertrou hulle niemand.
- Wat ek doen maak niemand seer nie.
- Dis so moeilik om God te hoor.
Die lys kan nog baie langer word. Neem ‘n rukkie en vra God om jou te wys waar jy verskonings maak vir jou oortredinge.
Ons het ‘n baie makliker, beter verbond met God, deur Jesus. Jesus wat sonder sonde was het betaal vir ons sonde en ons hoef net jammer te sê. Die Israeliete moes baie meer doen om vergifnis te ontvang. Ongelukkig is dit so dat mense nie waardeer wat hul maklik kry nie. Jesus het so duur betaal vir ons verlossing, sodat ons vry kan wees. Kom ons wees ‘n verantwoordelike bruid, wat ons deel van die Nuwe Verbond nakom. Ek wil hê Jesus moet sê dat ek ‘n liefdevolle, getroue bruid was, wat my skeppingsdoel op aarde ten volle uitgeleef het.
“’n Stem is gehoor op die kaal heuwels, smekende geween van die kinders van Israel, omdat hulle hul weg verdraai het, die Here hulle God vergeet het. Keer terug, o afkerige kinders; Ek sal julle afkerighede genees. Hier is ons, ons kom na U toe, want U is die Here onse God. Waarlik, tevergeefs verwag hulle dit van die heuwels en van die rumoer op die berge; waarlik, in die Here onse God is Israel se heil. Maar die Skandegod het die goed van ons vaders opgeëet van ons jeug af, hulle kleinvee en hulle beeste, hulle seuns en hulle dogters. Ons wil neerlê in ons skande, en ons smaad moet ons oordek; want ons het teen die Here onse God gesondig, ons en ons vaders van ons jeug af tot vandag toe, en ons het nie geluister na die stem van die Here onse God nie.”
JEREMIA 3:21-25 AFR53