DIE WEDUWEE VAN NAIN
- 2 minutes read - 261 wordsLukas 7:11-17
Jesus en ’n groep van Sy volgelinge was in die omgewing van Nain toe hul ’n groep mense raakloop wat oppad was om ’n jongseun te begrawe. Die seun se ma was ’n weduwee en dit was haar enigste seun wat gesterf het. Toe Jesus haar sien het Hy innig jammer gevoel vir haar en vir die seun beveel om op te staan. Die mense was verslae en het God verheerlik toe hul sien dat Jesus die seun uit die dood opgewek het. Die nuus het deur die hele area versprei.
Nain beteken skoonheid of aangenaam. Daar was daardie dag niks mooi of aangenaam in Nain, vir die hartseer weduwee, nie. Skielik het Jesus op die toneel verskyn en die hartseer dag het in ’n aangename dag verander.
Ons leef in ’n tyd waar mense baie hartseer ervaar. Jesus leef binne elkeen van ons en daarom het ons ook die vermoë om ander se lewens aangenaam te maak. Wat kan jy vandag doen om iemand se lewe aangenaam te maak? Vir wie gaan jy innig jammer voel? Die nuus sal versprei en meer mense sal Jesus volg.
“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
ROMEINE 8:11 AFR53
“Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?”
ROMEINE 2:4 AFR53