“DIE WONDERLIKE VISVANGS”
- 3 minutes read - 573 words“Toe klim Hy (Jesus) in een van die skuite wat aan Simon behoort het, en vra hom om ’n entjie van die land af weg te vaar, en Hy het gaan sit en die skare van die skuit uit geleer. En toe Hy ophou met spreek, sê Hy vir Simon: Vaar uit na die diep water en laat julle nette sak om te vang. En Simon antwoord en sê vir Hom: Meester, ons het die hele nag deur hard gewerk en niks gevang nie; maar op u woord sal ek die net laat sak. En toe hulle dit gedoen het, het hulle ’n groot menigte visse ingesluit; en hulle net wou skeur. Daarop wink hulle vir hul maats in die ander skuit om hulle te kom help. En hulle het gekom en altwee die skuite vol gemaak, sodat hulle amper gesink het. En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is ’n sondige man!”
LUKAS 5:3-8 AFR53
Simon (Petrus) het die hele nag lank probeer visvang, maar niks gevang nie. Simon was besig om die visnette skoon te maak toe Jesus op sy boot klim. Jesus het vir Simon gevra om 3 dinge te doen en Simon was gehoorsaam. Eers moes hulle ’n bietjie weg van die land vaar sodat Jesus met Sy volgelinge kon praat. Daarna moes Simon na die diep water vaar en laastens moes hy die nette uitgooi. Nadat Simon gegoorsaam was aan Jesus het hy oormaat ervaar en Jesus gevolg. Hier het Simon ’n nuwe beroep gekry, hy was nou ’n visser van mense. Simon moes sy vriende vra om te help en hulle is ook bevoordeel deur Simon se gehoorsaamheid.
Jesus kan vandag steeds in jou lewe instap.
Miskien is jy besig met alledaagse dinge wanneer Jesus in jou lewe kom? Miskien het jy ook ’n hele nag lank gewerk en niks gehad om daarvoor te wys nie, totdat Jesus, die lig van die wêreld, instap en alles verander. Miskien het Jesus in ’n krisis oomblik in jou lewe gekom toe jy geen inkomste gehad het nie.
Wat doen jy wanneer Jesus instap?
Is jy gehoorsaam soos Simon?
Simon het nie geweet sy dag gaan eindig met ’n boot vol vis en ’n nuwe beroep, toe hy Jesus vanaf sy boot laat preek het nie. Simon was onselfsugtig en gehoorsaam. Die Bybel sê nie dat Simon vrae gevra het toe Jesus vra dat hy na dieper water vaar nie. Die dieper water is simbolies van hoe ons God beter leer ken en Hom meer vertrou (kyk Eségiël 47). Simon het nie gekla dat hy moeg is nie en net die nette laat sak. Nadat Simon Jesus se goedheid ervaar het, het hy by Sy voete neergeval en was hy bewus van sy sonde. Jesus maak ons bewus van ons sonde sodat ons vergifnis kan vra. Skuldgevoelens kom van satan. Jesus wil nie hê jy moet swaardra aan foute wat jy in die verlede gemaak het nie. Simon was ook bewus dat Jesus iemand van belang is en het Hom gevolg.
Eers later sou Simon besef dat Jesus die Seun van God is (Matthéüs 16). Jesus het hom Petrus begin noem en ons ken Petrus, as ’n ou wat praat voor hy dink. Een dag van gehoorsaamheid het dus Petrus se hele lewe verander. Hoe kan jou lewe verander as jy ophou vrae vra?