Die 7 Genadegawes
- 5 minutes read - 987 wordsIn Romeine 12 vind ons die 7 genadegawes wat ons ontvang het. Jesus het al 7 hierdie gawes gehad. Die nommer 7 word beskou as die perfekte nommer en illustreer die sigbare teenwoordigheid van God. Ons almal het van hierdie gawes ontvang om te gebruik om God se Koninkryk te bevorder. Die 7 genadegawes moenie verwar word met die vyfvoudige bedienings nie - naamlik apostels, profete, evangeliste, herders en leraars (Efésiërs 4). Hierdie 5 posisies is meestal/dikwels beperk tot die kerk. Almal van ons is nie geroep om ‘n kerkleier te wees nie en daarom is dit belangrik om te kyk na die genadegawes. Daar is ook geestelike gawes in die Bybel wat jy sal vind in 1 Korinthiërs 12:8-10. Paulus sê ons moet almal werk maak om hierdie gawes te verkry (1 Kor 14:2). Elke persoon het ‘n roeping of lewensdoel wat ons moet vind. Ongelukkig gebruik baie mense hul gawes vir eiegewin. Wanneer jy weet wat jou gawes is kan jy makliker jou roeping vind.
“Want soos ons in een liggaam baie lede het en die lede nie almal dieselfde werking het nie, so is ons almal saam een liggaam in Christus en elkeen afsonderlik lede van mekaar. En ons besit genadegawes wat verskil volgens die genade wat aan ons gegee is: is dit profesie, na die maat van die geloof; of bediening, in die werk van bediening; of wie leer, in die lering; of wie vermaan, in die vermaning; wie uitdeel, in opregtheid; wie 'n voorganger is, met ywer; wie barmhartigheid bewys, met blymoedigheid.”
ROMEINE 12:4-8 AFR53
- Profeet - alle Christene is profeties, maar nie almal is geroep as profete nie. Alle Christene behoort God se stem te hoor en met Hom te kommunikeer (1 Kor 14:2). Profete vervang nie jou vermoë om by God te hoor nie. Hulle is daar om op te bou wat goed is en af te breek wat sleg is (Jer 1:10). Voorbeelde: Jesaja, Jeremia, Naomi, Debóra, Hosea, Elía, Elísa, Eségiël, Mirjam,
- “Servant” / Dienaar - Jy is goed met mense en om na hulle om te sien. Voorbeelde: Esther, Josef (Maria se man), Timótheüs, Barnabas,
- “Teacher”/ Iemand wat ander leer - Jy vind dit maklik om ander van God te leer. Kry openbaring van God. Voorbeelde: Daniël, Levi, Lukas, Esra,
- “Exhorter” / Vermaner - Dikwels ekstroverte met baie vriende. Besige mense. Voorbeelde: Moses, Paulus, Jeremia
- “Giver” / gewer - God gee sekere mense ‘n bo- natuurlike seën om geld te maak met die doel om ander te help. Voorbeelde: Abraham, Jakob, Job, Vroue in Lukas 8:3,
- “Ruler” / Regeerder - Dit is die natuurlike leiers en baie van hulle is geroep om evangeliste of landsleiers te word. Voorbeelde: Noag, Josef (Jakob se seun), Salomo, Nehemia,
- “Mercy” / Barmhartige persoon - Help graag ander en het dikwels ‘n sagte hart. Voorbeelde: Rut, Adam, Johannes (die apostel), Dawid
(Daar is baie gratis inligting op die internet wat jy sal vind as jy “redemptive gifts” opsoek.)
Die profete en konings (regeerders) is maklik om raak te sien in die Bybel, maar baie van hulle het ook sterk eienskappe van ander genadegawes gehad. Salomo was baie ryk en kon ‘n gewer en ‘n regeerder wees. Jesaja was ‘n profeet, maar het ook ‘n gawe gehad om ander te leer. Dawid was ‘n barmhartige regeerder. Sommige mense het 1 van die 7 gawes wat sterk uitstaan, terwyl sommige mense ‘n mengsel van die gawes het. Die gawes is nie ‘n lys om jou in ‘n “box” te probeer druk nie. Dit is daar om jou leiding te gee as jy geen idee het wat jou roeping is nie. Elke gawe kom slegs tot sy reg as jy ‘n intieme verhouding met God het. ‘n Vrygewige besigheidsman het die Heilige Gees se leiding netso baie nodig soos ‘n profeet wat ‘n woord van God bring. Jou missie/roeping is netso belangrik as die kerkleier se missie. Daarom moet jy moeite doen om dit te vind. As jy mense gelukkig wil maak sal jy nooit jou roeping suksesvol kan voltooi nie. As iemand van nature profeties is, maar God glad nie ken nie sal hulle dalk in donker geestelike praktyke betrokke raak. Bileam kon ‘n profeet van God wees, maar wou sy eie besluite neem. ‘n Onvolwasse of ongeredde regeerder sal alles en almal wil beheer. ‘n Dienaar of barmhartige persoon moet seker maak mense misbruik nie hul goedheid nie. ‘n Ongeredde persoon wat maklik geld maak sal die geld nie tot eer van God gebruik nie. Ons het dus almal “ingeboude” gawes wat ons moet ontdek en dan met God se hulp moet ontwikkel.
Die Bybel beklemtoon dat sekere posisies nie belangriker as ander is nie. God het elkeen van ons uniek gemaak vir ‘n spesifieke doel en ons behoort saam te werk. Dikwels doen mense wat hul geniet, maar is steeds sielsongelukkig en eensaam. Dit is wanneer hul hul gawes nie gebruik tot eer van God nie. Geld, sport en besittings kan nie die holte vul wat vir God bedoel is nie.
“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:1-2 AFR53
Wanneer jy saam met God jou gawes ontdek sal jy uitvind dat jy baie meer kan doen. Jy sal gemoedsrus hê en God se vrede ervaar en jy sal “doof” word vir die druk van die wêreld.
“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”
ROMEINE 15:13 AFR53
“Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind; en hy wat op die Here vertrou, is gelukkig.”
SPREUKE 16:20 AFR53