Die Bybel se Feeste
- 10 minutes read - 1933 wordsLevítikus 16, 23
Deuteronómium 5:12-14, 16:1-17
Jy mag dalk dink dat die feeste slegs vir die Jode is. Jesus het hierdie feeste gevier (Matthéüs 26:17-19, Markus 6:2, Lukas 2:41-42, 4:16, Johannes 2:13, 7:10-11) en elke fees leer vir ons meer van Jesus en van God se planne. Drie keer ‘n jaar moes almal bymekaar kom vir die feeste. Drie verwys na Jesus. Jesus het 3 jaar gepreek, Hy het op die derde dag opgestaan, Hy is deel van ‘n drie-enige God en daar is nog baie meer.
“Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie;”
DEUTERONÓMIUM 16:16 AFR53
“Op die dag as julle vrolik is, sowel as op julle feestye en by die begin van julle maande moet julle by jul brandoffers en by jul dankoffers op die (2 silwer) trompette blaas: hulle sal dien om julle in gedagtenis te bring voor die aangesig van julle God. Ek is die Here julle God.”
NÚMERI 10:10 AFR53
Die Joodse feeste word gehou van sononder to sononder. M.a.w. ‘n nuwe dag begin met sononder. Die feeste is ‘n skaduwee van dinge wat in die toekoms gebeur. Sommige feeste is reeds vervul en ander sal met Jesus se tweede koms vervul word.
“Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat 'n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
KOLOSSENSE 2:16-17 AFR53
“WANT die wet, wat 'n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.”
HEBREËRS 10:1 AFR53
1. Sabbat:
Die Sabbat word weekliks gevier, elke sewende dag is ‘n rusdag. Dit begin op ‘n Vrydagaand en eindig op die Saterdagaand. In Jerusalem is dit tjoepstil op ‘n Sabbatdag en na sonsondergang word die strate skielik besig wanneer die winkels oopmaak. Christene het begin om die eerste dag van die week as “Jesus se dag” te vier omdat Hy op ‘n Sondag opgestaan het. Almal wat Jesus volg sal die sabbatsrus ingaan wanneer ons gedurende die millenial era saam met Jesus regeer - Openbaring 20:1-6. Die 1000 jaar word beskou as ‘n geestelike sewende dag.
2. Pasga/Pesach:
Op die veertiende dag van die eerste maand - 14 Abib/Nisan - word Pasga gevier. Die eerste Pasga het plaasgevind met die tiende en laaste plaag in Egipte - Exodus 11-12. Die Israeliete moes ‘n perfekte lam slag en die bloed op hul deurposte verf om hulle eersgeborenes te beskerm van die dood. Hulle moes haastig die lam gaarmaak en met ongesuurde brood en bitter kruie eet. Daarna moes die Israeliete vir 7 dae lank ongesuurde brood eet - Fees van Ongesuurde brood. Die Israeliete moes al die suurdeeg uit hul huise verwyder. Enige iemand wat suurdeeg sou eet gedurende hierdie dae moes uitgeroei word. Suurdeeg is ‘n simbool van sonde en in die Ou Testament moes sondige mense sterf sodat hulle nie die ander Israeliete kon weglei van God nie. Die eerste en laaste dag moes ‘n samekoms gehou word.
Die fees is gedurende die Lente in Israel en graan word dan gewoonlik geoes. Die eerstelinge van die oes (“first fruits”) is dan aan God gebring. Dit was ‘n skaduwee van Jesus wat eerste uit die dood opgewek is sodat ons ook die ewige lewe kon kry - 1 Korinthiërs 15:20-22. Jesus was die finale en perfekte Pasga Lam. Jesus het die volle wet onderhou en was sonder sonde en tog het Hy ons sonde op Hom geneem. Na Jesus se dood en opstanding hoef daar nooit weer diere geoffer te word nie. Jesus het dus reeds die Pasga fees vervul. Almal het nou toegang tot God. Die Allerheiligste was nie langer net daar vir die hoëpriester nie. Almal het toegang gekry om ‘n intieme verhouding met God te bou.
3. Fees van weke - Shavuot - “Pentecost”- Pinkster:
Sewe weke na die Sabbat (Fees van ongesuurde brode) m.a.w. 50 dae later moes die Israeliete die fees hou. Daar moes weer offers aan God gebring word. Die Jode glo die wet is aan Moses oorhandig by die berg Sinai, gedurende hierdie tyd. Christene vier Hemelvaartdag 40 dae na Paasfees en die uitstorting van die Heilige Gees 50 dae na Paasfees. Die uitstorting van die Heilige Gees val dus saam met die Fees van weke. Jesus het die volle wet vervul sodat ons nou onder ‘n nuwe verbond leef.
Die fees is dus reeds vervul en ons kan m.b.v. die Heilige Gees vol outoriteit regeer.
4. Joodse Nuwejaar/ Rosh Hashanah/ Fees van trompette:
Hierdie fees word op die eerste dag van die sewende maand gehou en word met ‘n basuinklank aangekondig. Dit wil voorkom dat ‘n basuin na ‘n ramshoring/shofar verwys en nie na die 2 silwer trompette nie. Al die ander maande word aangekondig deur op die 2 silwer trompette te blaas, maar die sewende maand word daar op ‘n ramshoring geblaas. ‘n Ramshoring was ook gebruik tydens oorlogvoering. In Openbaring lees ons ook van 7 basuine wat geblaas word. Die sewende basuin word geblaas wanneer Jesus vir ewig Koning word - Openbaring 11:15-19. Jesus sal terugkeer op die wolke en ons sal saam met Hom gaan. Christene sal opgewek word uit die dode en saam met Hom regeer. Dit sal die begin van die sewende dag (jaar 6000 -7000) wees. Dit is so gepas, want die fees word gehou op die eerste dag van die sewende maand. Dit sal vir Christene ‘n wonderlike “Nuwe Jaar” en nuwe lewe gee. Rosh Hashanah sal dus vervul word met die wederkoms van Jesus.
“in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
I KORINTHIËRS 15:52 AFR53
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53
5. Versoendag/ Yom Kippur/ “Day of Atonement”:
Versoendag is op die tiende dag van die sewende maand gevier. Die word ook aangekondig met die klank van ‘n basuin - Levítikus 25:9. Op die versoendag moes Aäron 1 bul en 2 bokke voor God bring - Levítikus 16. Die bul moes hy offer vir sy sonde en die sonde van die ander priesters en Leviete. Die 1 bok moes hy offer vir die sonde van die Israeliete. Vandaar die term sondebok. Die ander bok Asásel (“dismissal” - verwydering) moes weggejaag word die woestyn in. Asásel is ook die naam van ‘n gevalle engel. Soos die engel totaal en al uit God se teenwoordigheid verwyder is, is die mense se sonde ook verwyder. Die bokke het die vergifnis en die verwydering van sonde uitgebeeld. Die bloed van die diere moes dan o.a. op die versoendeksel (“mercy seat”) gesprinkel word. Op die versoendeksel van die verbondsark het God dan op elke Versoendag verskyn.
“en die Here het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.”
LEVÍTIKUS 16:2 AFR53
Ek glo Jesus is gebore op ‘n Versoendag. Jesus het versoening gebring vir ons sondes. Immanuel is gebore wat beteken “God met ons”. Jesus het verskyn net soos wat God verskyn het. Die engele het ‘n versoeningsboodskap van God gebring: “vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae”. Drie en dertig jaar later met Jesus se kruisiging is Sy bloed op die versoendeksel in die Hemel gesprinkel om te betaal vir ons sonde. Bybel navorsers dink dat die verbondsark weg was en nooit in die tweede tempel geplaas is nie. Sommige navorsers beweer die verbondsark is gevind en sal in die derde tempel gebruik word.
“Want Christus het nie ingegaan in 'n heiligdom met hande gemaak, 'n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn; ook nie om Homself dikwels te offer, soos die hoëpriester elke jaar in die heiligdom ingaan met bloed wat nie sy eie is nie, want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.”
HEBREËRS 9:24-26 AFR53
Deur Jesus se geboorte en Sy dood waar die bloed vir die laaste keer gesprinkel is, is die Versoendag vervul.
6. Loofhuttefees/ Huttefees/Sukkoth:
Op die vyftiende van die sewende maand moes die fees gehou word. Die mense moes vrolik feesvier met palmtakke, wilgertakke en vrugte. Vir 7 dae moes hulle in hutte woon om hulle te herinner hoe God hulle gelei het uit Egipte. Die fees is dus reeds vervul. Vandag nog sal jy sien hoe die mense in Israel hulle stoepe met blomme en takke versier gedurende die fees. Jesus was die rots wat saam met die Israeliete getrek het en was dus daar in die Ou Testament by die Israeliete - 1 Korinthiërs 10:4.
Baie skrywers sê daar is 7 feeste en sal onderskei tussen Pasga (Fees van Ongesuurde brood) en die Fees van Eerste Vrugte. Ek het die feeste saam onder Pasga bespreek.
Die Sabbatdag en Rosh Hashanah sal nog deur Jesus vervul word. Die ander feeste is reeds deur Jesus vervul. Tien keer in Levítikus 23 word daar genoem dat daar nie gewerk mag word op spesifieke feesdae nie. Daar word egter ekstra klem gelê dat geen werk op die Versoendag gedoen moes word nie.
“En op daardie selfde dag mag julle géén werk doen nie, want dit is 'n versoendag om vir julle versoening te doen voor die aangesig van die Here julle God. Want elkeen wat hom op daardie selfde dag nie verootmoedig nie, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. Ook elkeen wat op daardie selfde dag enige werk doen, dié siel sal Ek uitroei onder sy volk uit.”
LEVÍTIKUS 23:28-30 AFR53
“En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie — die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef.”
LEVÍTIKUS 16:29 AFR53
Ek glo die feit dat daar geen werk gedoen word op die Versoendag wys vir ons dat geen werk wat onsself doen versoening tussen ons en God bring nie. Jesus het die versoening gebring met Sy lewe en bloed. Jesus het ten volle betaal. Indien iemand nie Jesus se gratis verlossing wil aanvaar nie sal hy/sy nie die ewige lewe beërwe nie. Nadat ons Jesus aanvaar het kan ons nie stilsit nie. Ons moet verhouding bou met die Vader en dan sal die Heilige Gees ons lei om goeie vrugte te dra. Die feeste is gebaseer op ‘n boerdery gemeenskap. Ons lewens is ook gebaseer daarop om goeie saad te saai sodat ons goeie vrug kan dra.