DIE GROOTSTE LEUEN IN DIE KERK VANDAG
Janine Forsyth
- 6 minutes read - 1130 wordsBaie wette was ‘n skaduwee van Jesus wat sou kom om ons vry te koop. Die eersgeborenes moes vir God geheilig word - Exodus 13. Die manlike eersgeborene diere moes geoffer word en die eersgeborene mans moes losgekoop word. Vandag weet ons dat ons vrygekoop is deur Jesus se bloed en nie mens of dier word losgekoop of geoffer nie.
Jy hoef nie jou seuns te besny of te doop nie, want Jesus het hulle vrygekoop. As volwassenes kan almal vrywillig en deur Heilige Gees leiding besluit om die Bybel se doop (onderdompeling) te laat doen. Jesus het vrywillig aan die kruis gesterf en ons volg God vrywillig.
In die Ou Testament moes die eerste tiende van almal se inkomste aan die tempel en Leviete geskenk word. Hierdie tiende in die vorm van geld, diere of die oes moes die ander nege tiendes van hulle inkomste loskoop. M.a.w. mense moes gee om vry te kom - Deuteronómium 28, Maleági 3:10. Kerke stel mense vry van slagoffers, maar nie vry van geld offers nie. Jesus het jou ten volle vrygekoop. Ons glo aan “generous giving”, want tiendes plaas jou onder die wet. In die Ou Verbond moes jy die wet onderhou om geseënd te wees. Die Nuwe Testament moedig ons aan om onsself aan God te gee, vol liefde te wees en om vrygewig te wees. Liefde is ons motief om te gee en nie die wet nie. Christene moet veral omsien na weduwees en weeskinders. Jy kan ook nie vir God en Mammon aanbid nie. Paulus het gesê jy moet self voor die tyd besluit hoeveel jy gee, sodat mense jou nie beïnvloed nie. Die Bybel sê ook predikers moet betaal word en ons weet kerkgeboue moet onderhou word.
Heilige Gees moet jou leiding gee oor die bedrag wat jy gee. Miskien as mense ophou om ander onder die wet te plaas deur tiendes te vra sal baie meer finansies invloei. Die term tiende verskyn nie in die Nuwe Testament nie. Jy is vrygekoop van tiendes en Heilige Gees kan jou nou lei. Jy hoef nie skuldig te voel as jy minder as ‘n tiende aan die kerk gee omdat jy ook ander minder bevoorregtes help nie. Wanneer jy sê jy gee ‘n tiende, maar dit is minder as ‘n tiende van jou inkomste is dit meer as ‘n wiskunde probleem; dit is ‘n leuen. Ons almal weet wat met Ananías en Saffira gebeur het toe hulle vir God gelieg het - Handelinge 5.
Die wet was ‘n swaar las op die mense. Jesus se bloed het almal wat Hom volg vrygekoop. Wil jy steeds onder die wet lewe of wil jy ‘n kind van God wees?
“Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.”
II KORINTHIËRS 9:7 AFR53
“Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.”
JAKOBUS 2:10 AFR53
“As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.”
JOHANNES 8:36 AFR53
“Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.”
II KORINTHIËRS 3:17 AFR53
“En Hy sê: Wee julle ook, wetgeleerdes, want julle lê laste op die mense wat swaar is om te dra, en self roer julle die laste nie met een van julle vingers aan nie.”
LUKAS 11:46 AFR53
“Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde. Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
GALÁSIËRS 5:4, 13-14
“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”
MATTHÉÜS 11:28-30 AFR53
“EN Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is 'n oortjie. Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”
MARKUS 12:41-44 AFR53
“DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood. Want God het — wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees — deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang 'n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”
ROMEINE 8:1-9, 13-17 AFR53