DIE HELE AARDE IS VAN SY HEERLIKHEID VOL
Janine Forsyth
- 6 minutes read - 1132 wordsDie jaar wat die koning sterf het Jesaja die Here op Sy troon gesien. Wanneer ‘n regeerder sterf is daar altyd geleentheid vir ‘n nuwe begin. Jesaja het serafs (engele van vuur) gesien wat eer aan God gebring het. Die aarde was vol van God se heerlikheid en Jesaja het sy roeping aanvaar as profeet.
“IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het. Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.”
JESAJA 6:1-4 AFR53
Dis belangrik om te kyk wat voor en na Jesaja se ondervinding gebeur het. Die mense van Juda het God verwerp en in sonde geleef. Gevolglik het God sy beskerming weggeneem.
• Die mense het eiendom versamel,
• hulle het gedink hulle is “cool” wanneer hulle sterk drank drink en
• geleef asof God nie bestaan nie.
• Hulle het sleg goed genoem en goed sleg genoem.
• Hulle was wys in hulle eie oë en
• hulle het omkoopgeld ontvang om skuldiges regverdig te verklaar en die reg van regverdiges ontneem.
• Hulle het God verwerp.
• Daar was ‘n angsvolle duisternis op aarde.
“Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors. Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is. Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; wat vir 'n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem. Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het. En in dié dag sal dit oor hulle dreun soos die gedreun van die see. As iemand die aarde aanskou, kyk, daar is angsvolle duisternis; en die lig is verduister deur die wolke.”
JESAJA 5:11-13, 20-24, 30 AFR53
God het Jesaja gebruik om in ‘n baie donker tydperk te profeteer dat Immánuel (God met ons) sal kom. Jesaja het geleef in dit tyd van die eerste tempel, meer as 700 jaar voor Jesus se geboorte.
“Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.”
JESAJA 7:14-16 AFR53
Met Jesus se geboorte en die 3,5 jaar van Sy bediening was God se heerlikheid sigbaar.
“EN daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar 'n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal 'n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê. En skielik was daar saam met die engel 'n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense 'n welbehae!”
LUKAS 2:8-14 AFR53
Jesaja het later weer oor God se heerlikheid profeteer. Hy het gesê wanneer die aarde donker is sal die heerlikheid kom. Ons sien baie van donkerte nou en ek glo baie van ons het wakker geskrik en besef God wil ons gebruik om Sy heerlikheid te bring. Ander profete het ook profeteer oor God se heerlikheid.
“En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek.”
JESAJA 40:5 AFR53
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”
JESAJA 60:1-3 AFR53
“Want so sê die Here van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die Here van die leërskare. Aan My behoort die silwer en aan My die goud, spreek die Here van die leërskare. Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vroeëre, sê die Here van die leërskare; en op hierdie plek sal Ek vrede gee, spreek die Here van die leërskare.”
HAGGAI 2:6-9 AFR53
“Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos die waters die seebodem oordek.”
HÁBAKUK 2:14 AFR53
Daar was baie herlewings oor die jare, maar nog nooit was die hele wêreld vol van Sy heerlikheid nie. Maak jouself beskikbaar vir God sodat Hy jou kan gebruik. Jesaja en Jesus het dit gedoen en die heerlikheid gesien.