Die intog van Jesus in Jerusalem
- 3 minutes read - 509 wordsMatthéüs 21:1-11
Lukas 19:29-44
Johannes 12:12-19
Jesus het 2 dissipels gestuur om ‘n jong eselvul te gaan haal in Bétfage (Huis van stalle) naby die Olyfberg. Niemand het al voorheen op die eselvul gery nie. Jesus was nederig en het nie op ‘n perd gery soos ander konings nie. Jesus het gekom om vrede tussen God en die mensdom te bewerkstellig. Sagaría se profesie is daardie dag vervul.
“VERHEUG jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.”
SAGARÍA 9:9 AFR53
Die mense het hul klere (moontlik hul kleed of “prayer shawls”) op die vul geplaas sodat Jesus daarop kon sit. Die mense het ook klere op die pad gegooi. In die Ou Testament toe Jehu (hy het die slegte Agab en Isébel verslaan) gesalf is as koning het die mense ook elkeen hul kleed neergelê sodat Koning Jehu daaroor kon loop - 2 Konings 9:13. Sommige het palmtakke geswaai en God geprys. Die mense het geweet Jesus is die beloofde Koning en hulle het die Ou Testament se skrifte aangehaal.
“terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele!”
LUKAS 19:38 AFR53
“Geseënd is hy wat kom in die Naam van die Here! Ons seën julle uit die huis van die Here.”
PSALMS 118:26 AFR53
Toe die Fariseërs dit hoor was hulle baie ontsteld. Jesus het gesê dat die klippe sal uitroep as die mense swyg. Die skare kon sien dat Jesus die beloofde Redder, Koning en Messias was, maar baie van die Fariseërs kon dit nie sien nie. Die skare was vrolik, maar soos Jesus nader aan Jerusalem kom het Hy begin huil. Hy het gehuil omdat Hy die toekoms van Jerusalem en sy mense kon sien.
“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande 'n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.”
LUKAS 19:41-44 AFR53
Toe Jesus as nederige koning gekom het, gebore in ‘n stal, en op ‘n donkie gery het, het baie nie die gunstige tyd van God se besoek ervaar nie. Eendag sal Koning Jesus terugkeer op ‘n wit perd en dan sal dit te laat wees om Hom te kies. Moenie wag tot Jesus soos ‘n glansryke Koning kom voor jy Hom aanvaar nie, dit gaan te laat wees.