DIE JOODSE HUWELIK
- 3 minutes read - 579 words1. Die Pa (of fisiese ouers) van die bruidegom kies ‘n bruid vir die seun. God het elke mens gekies om ‘n bruid vir Sy Seun te wees. Jy het ‘n keuse of jy Jesus se bruid wil wees. Die gelykenis van die bruilofsfees in Matthéüs 22 vertel vir ons dat “baie geroep is, maar min uitverkies is”. OF Die bruidegom verlaat sy Pa se huis (die Hemel) en kom na die Aarde om ‘n bruid te soek.
2. Die bruidegom moes ‘n prys betaal vir sy bruid. Jesus het met Sy lewe betaal vir Sy bruid - 1 Petrus 1:18-19.
3. Dan word daar ‘n kontrak opgestel en die bruid en bruidegom is dan verloof. Wanneer jy Jesus aanvaar as jou Redder het jy ‘n verbond/kontrak met Hom - Hebreërs 8:10. Jy is Jesus se verloofde.
4. Die bruidegom sou geskenke gee aan sy verloofde. Jesus gee vir ons geestelike geskenke - 1 Korinthiërs 12 en Romeine 12.
5. Dan sou die bruidegom weggaan na sy pa se huis om ‘n kamer aan te bou vir sy vrou. Ons Bruidegom is nou by die Vader om vir ons ‘n plek voor te berei.
“In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.”
JOHANNES 14:2 AFR53
6. Die bruid moes gereed wees, want sy weet nie wanneer haar bruidegom terugkom nie. Ons moet gereed wees, want slegs die Vader weet die presiese tyd wat Jesus terugkeer - Matthéüs 24:36, Markus 13:32.
7. Daar sal ‘n geroep wees wanneer die bruidegom terugkeer -Matthéüs 25:6. Jesus sal uitroep wanneer Hy Sy bruid in die wolke ontmoet.
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”
I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53
8. Dan sal die bruid en bruidegom vir 7 dae lank weg van die wêreldse probleme tyd bymekaar spandeer. Jesus se bruid sal vir 7 jaar beskerm wees van die tribulasie op Aarde.
9. Dan volg die huweliksfees. In Johannes 2 doen Jesus Sy eerste wonderwerk by ‘n bruilofsfees.
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.”
OPENBARING 19:7-9 AFR53
10. Vir die eerste jaar moes die bruidegom daar wees vir die bruid. Vir ‘n 1000 jaar gaan Jesus saam met Sy bruid regeer - Openbaring 20:1-6.
“As 'n man pas getroud is, hoef hy nie op kommando uit te trek nie, en hulle moet hom in geen enkele opsig iets oplê nie; een jaar lank moet hy vry wees vir sy huis en aan sy vrou wat hy geneem het, vreugde verskaf.”
DEUTERONÓMIUM 24:5 AFR53
Die Joodse huwelik is ‘n skaduwee van Jesus se lewe.