Die Kidron Vallei
- 3 minutes read - 475 wordsMarkus 14
Op die eeste dag van die Fees van Ongesuurde Brode het Jesus Sy laaste Pasga maal geëet. Hy en net Sy 12 dissipels was saam in ‘n bo-vertrek in Jerusalem. Dit is hier waar Judas Iskariot sy hand saam met Jesus se hand in die skottel geplaas het. Na die maaltyd het Jesus en die dissipels deur die Kidron Vallei gestap na Getsémané.
“NADAT Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar 'n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.”
JOHANNES 18:1 AFR53
Kidron - Strong’s H6937/9 - om donker te word/ te treur/ word somber.
Ou Testament: Kidron
Nuwe Testament: Kedron
Strong’s Concordance en Nave’s Topical Bible Reference System beskou Kidron en Kedron as dieselfde plek.
Die Kidron Spruit is ‘n waterstroom wat onder die oostelike muur van Jerusalem loop tot by die Olyfberg. Dit het tussen die tempel en Olyfberg gevloei. Die Kidron vallei was gebruik as ‘n begrafplaas vir belangrike persone. Absalom se graf is in die vallei.
Ons lees in die Ou Testament ook van die Kidron Spruit. Dawid se volgelinge het gehuil by die Kidron Spruit toe hulle besef dat Absalom homself as koning laat kroon het - 2 Samuel 15:23. Dit was ‘n donker tyd vir Dawid toe hy van sy eie seun moes vlug. Jesus het dieselfde verraad en donkerte ervaar by die Kidron Spruit. Dawid is verraai deur sy eie seun en die Seun van Dawid is verraai deur een van Sy 12 dissipels.
Godvresende konings Asa en Josía het vals gode en altare laat vernietig by die Kidron Spruit, net buite Jerusalem - 1 Konings 15:13, 2 Konings 23:4,6,12. Koning Hiskía het die tempel laat reinig en die Leviete het alles wat hul verwyder het na die Kidron Vallei geneem - 2 Kronieke 29:16. Die water het donker geword wanneer afval daarin gegooi is en dit was geestelik ook ‘n donker plek.
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat die stad vir die Here herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort. En die meetsnoer sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Gareb en swaai na Goa toe. En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort teen die ooste, sal aan die Here heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie.”
JEREMIA 31:38-40 AFR53
Die area om die Kidron Vallei sal nie altyd ‘n donker en droewige plek bly nie. Ek glo die profesie van Jeremia verwys na die 1000 jaar Messiaanse vrederyk. Die Kidron Vallei sal nie meer ‘n begrafplaas wees nie. Dit sal nie meer ‘n donker en hartseer plek wees nie. Dit sal ‘n heilige plek wees vir God.