DIE KLIP
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 500 wordsJakob moes vlug na Haran omdat Esau hom wou doodmaak - Génesis 27:41-45. Jakob het sy vader bedrieg en tog het God met hom gepraat. Ek neem aan dat hy alleen, bang vir die toekoms en moeg gevoel het toe hy ‘n klip neem om sy kop op te rus. God het egter ‘n plan gehad. Terwyl hy slaap het hy ‘n wonderlike ontmoeting met God gehad. Die klip was ‘n simbool van Jesus. Jesus word later die hoeksteen genoem - Matthéüs 21:42. Wanneer ons rus vind in Jesus maak dit die pad oop vir drome, visioene en ontmoetings met die Vader. Ons hoef nie langer bevrees te wees vir die toekoms nie.
“Daarop kom hy by 'n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. En hy het gedroom — daar is 'n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as 'n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as 'n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. En Jakob het 'n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek, en ek behoue na die huis van my vader sal terugkom, dan sal die Here my God wees. En hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, sal 'n huis van God wees, en van alles wat U my gee, sal ek aan U sekerlik die tiendes afstaan.”
GÉNESIS 28:11-22 AFR53