DIE KONINKRYK VAN GOD
- 10 minutes read - 1972 words“laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde; en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
MATTHÉÜS 6:10, 13 AFR53
Ons almal ken die “Onse Vader”, wat Jesus aan die dissipels gegee het toe hulle wou weet hoe hulle moes bid. Ons vra dat God se koninkryk moet kom en dan sê ons hierdie koninkryk behoort vir altyd aan God (Daniël 4:3; Psalms 22:29, 103:19). As God wil hê dat ons moet bid dat Sy koninkryk moet kom beteken dit dat Sy koninkryk nie oral op die aarde is nie. Dit is dus Christene se verantwoordelikheid om seker te maak dat God se koninkryk kom.
“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
MATTHÉÜS 6:33 AFR53
Later in Matthéüs 6 sê lees ons dat ons hierdie koninkryk moet soek sodat ons geen tekort sal ervaar nie. Jy moet ‘n keuse maak om elke dag God se koninkryk te soek en dan sal Hy na jou behoeftes omsien.
“EN toe Hy deur die Fariseërs gevra is wanneer die koninkryk van God sal kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle.”
LUKAS 17:20-21 AFR53
Wanneer die Fariseërs ’n tyd wou weet wanneer hierdie koninkryk sou kom het Jesus gesê dat iets binne Christene gebeur wanneer Sy koninkryk kom. Dit was dus nie uiterlike tekens soos offers, die besnydenis, die doop of die nagmaal nie. Baie mense het gedink Jesus gaan as fisiese koning gekroon word en dat hulle dit gaan sien gebeur, maar dit was glad nie die geval nie (Lukas 19:11). Die koms van God se koninkryk verwys na ‘n innerlike transformasie wat plaasvind. God se koninkryk is ‘n koninkryk uit die Hemel en uit die Gees, nie uit die vlees nie.
“Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”
JOHANNES 18:36 AFR53
“want die koninkryk van God bestaan nie in woorde nie, maar in krag.”
I KORINTHIËRS 4:20 AFR53
“Maar as Ek deur die Gees van God die duiwels uitdryf, dan het die koninkryk van God by julle gekom.”
MATTHÉÜS 12:28 AFR53
God se koninkryk gee krag en maak dit moontlik om duiwels uit te dryf.
Jesus het ‘n hele paar gelykenisse vertel waar Hy verduidelik het hoe God se koninkryk werk.
“EN Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk? Dit is soos 'n mosterdsaad wat 'n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en 'n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke. En weer het Hy gesê: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.”
LUKAS 13:18-21 AFR53
Wanneer ‘n mens saad saai moet dit in die grond gaan en water (Jesus/ die Woord/ die Heilige Gees/geloof) ontvang sodat dit kan ontkiem. Ons weet dat saad eers doodgaan daar in die donkerte onder die grond (Johannes 12:24) voordat dit kan groei en vrug dra. Ons (die saad) moet alleen by God wees en doodgaan (Galásiërs 2:20) sodat Jesus deur ons kan leef. Dan kan ons groei, vrug dra en gevolglik ‘n bydrae lewer om die koninkryk aarde toe te bring. Wanneer God se koninkryk binne-in jou kom moet jy toelaat dat dit deur jou lewe versprei en elke area van jou lewe aanraak soos suurdeeg deur deeg versprei. Jy sal nie ‘n brood koop wat eenkant plat soos ‘n pannekoek is nie. Waarom leef ons dan met grys areas wat glad nie aan God toegewy is nie?
“'n ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat goeie saad in sy land gesaai het; 'n ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos 'n mosterdsaad wat 'n man neem en in sy land saai; 'n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat 'n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is. VERDER is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat 'n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos 'n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”
MATTHÉÜS 13:24, 31, 33, 44-50, 52 AFR53
Wanneer jy goeie kwaliteit saad saai, en dan daarna omsien sal jy ‘n goeie oes kry. Wanneer daar ‘n skat op ‘n stuk grond is sal baie mense hul besittings wil verkoop om die grond te koop sodat hulle die skat kan kry. Die dissipels het alles agter gelaat om Jesus te volg. Die koninkryk kan dus maak dat mense groot veranderinge in hul lewens maak. Hulle sal dalk ‘n nuwe werk kry, hulself met ander dinge besig hou of hulle geld anders spandeer as voorheen. Die koopman het alles verkoop om een pêrel te koop. As Christene moet ons kan raaksien dat slegs Jesus en God se koninkryk belangrik is. Jesus is ons pêrel en kosbare skat. Niks anders in hierdie lewe gee vir jou toegang tot die ewige lewe nie. Jou werk, familie, kos, besittings, geld, sport of stokperdjie kan jou nie die ewige lewe gee nie. Waarvan moet jy ontslae raak sodat jy die pêrel kan kry? Daar sal ‘n tyd kom wat ons almal rekenskap moet gee vir ons keuses. Sekere mense sal ‘n wonderlike ewige lewe in die Hemel deurbring (Matthéüe 5:3,10) en ander sal verewig pyn en lyding ervaar (1 Korinthiërs 6:9, Matthéüs 8:12). Die wat Jesus heelhartig volg sal voortdurend leer en nuwe openbarings by God kry. Ons sal ook vashou aan die baie ouer waarheid van die Skrif. In Matthéüs 22 vergelyk Jesus die koninkryk met ‘n koning wat ‘n bruilofsfees wil hou vir sy seun, maar die gaste het allerande verskonings om nie die fees by te woon nie. Op die ou end nooi hulle ander gaste. Ons is almal genooi na God se koninkryk, maar sal ons die uitnodiging aanvaar of sal ons vol verskonings wees?
“Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Voorwaar Ek sê vir julle, elkeen wat die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.”
LUKAS 18:16-17 AFR53
In Matthéüs 18 wou die dissipels by Jesus weet wie is die belangrikste in die koninkryk. Jesus het geantwoord dat die kinders die belangrikste was. Dit het niks met hul ouderdom te doen gehad nie, maar dit gaan oor hul harte. Ons moet kinderlike geloof en vertroue in God hê om die koninkryk van God te ontvang. Wanneer dit by God se goed kom is dit nodig om jou verstand af te skakel. Jou brein sal vir jou sê iets is onmoontlik. Jy het nie genoeg geld, brandstof, kos of klere nie. Jou brein gaan vir jou sê iemand is te siek, hulle gaan sterf of het reeds gesterf. Geloof in God sê niks is onmoontlik vir God nie. Niks is te moeilik vir God nie. God sê jy kan alles doen wanneer God vir jou die krag gee. Wanneer jy nie meer hoop het nie, sê God se Woord dat jy altyd hoopvol moet bly.
“Die wet en die profete was tot op Johannes; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin.”
LUKAS 16:16 AFR53
Dit stop nie wanneer ons Jesus aanvaar as ons persoonlike saligmaker nie. Ons kan nie hande gevou sit nadat ons Christene geword het nie. Om met geweld iets te neem, beteken jy kry teenstand, maar niks gaan jou stop nie. Elkeen van ons het ‘n verantwoordelikheid om God se koninkryk hier op aarde te kry. Ekself moet aktief besig wees om meer van God in my eie lewe te hê en dan sal ek meer hê om aan ander te gee. Johannes het baie tyd alleen in die wildernis met God spandeer en het geweet dat hy die gelowiges met water moes doop. Dit was iets nuuts wat niemand voorheen gedoen het nie. Johannes het so die pad vir Jesus voorberei. Johannes en Jesus het ook vir die mense aangemoedig om hulle te bekeer omdat die koninkryk naby was (Matthéüs 3:2, 10:7). Jesus het baie tyd alleen by die Vader spandeer en kon daarom Sy lewe gee vir ons. Jesus en Johannes het meer van God se koninkryk aarde toe gebring. Dis tyd dat ons uitvind hoe elkeen van ons God se koninkryk kan bevorder en dit begin met jou persoonlike tyd by God (Jeremia 33:3). Miskien het God ook iets splinternuut vir jou om te doen en slegs alleen tyd by God kan jou wys wat dit is.
“Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.”
II PETRUS 1:10-11 AFR53
Daar sal sekere tekens wees wanneer die koninkryk hier is (Lukas 21). Om die koninkryk aarde toe te bring sal beteken dat ons meer van die Hemel op aarde ondervind. Siekes sal gesond word, mense sal tot bekering kom, duiwels word uitgedryf, mense sal vrede ervaar in moeilike omstandighede en op God se tyd sal Jesus terugkeer. Intussen moet ons regeer oor hierdie aarde soos waardige konings en priesters. Jesus het nie ‘n kroon gedra en op ‘n troon gesit nie, maar Hy het vol liefde tussen gewone mense geleef en God se koninkryk aarde toegebring. Ek en jy moet dieselfde doen.
“en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep.”
I THESSALONICENSE 2:12 AFR53
“Daarom, omdat ons 'n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees.”
HEBREËRS 12:28 AFR53
“Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het. Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.”
I KORINTHIËRS 15:24-25 AFR53