Die laaste 2 plae wys ons na Jesus
- 2 minutes read - 379 wordsDie negende plaag was duisternis. Die Egiptenare kon vir 3 dae lank absoluut niks sien nie. Dit is simbolies van Jesus wat 3 dae lank in die graf was. Die Israeliete in Gosen (Strong’s H1567 - trek nader - m.a.w. beweeg nader aan God) het lig gehad.
“Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.”
EXODUS 10:23 AFR53
Dit was donker vir 3 ure (12h - 15h) met Jesus se dood.
“En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.”
LUKAS 23:44-46 AFR53
Die tiende en laaste plaag was die dood van die eersgeborene. Donkerte word gevolg deur die dood. Die Egiptenare het hul oudste kinders en diere verloor. Die Israeliete was beskerm deur die bloed van die vlekkelose lam. Jesus het vir ons gesterf as eersgeborene van God sodat ons nie hoef te sterf nie. Almal wat Jesus aanvaar verkry die ewige lewe. Jesus se dood en opstanding was vir die mens soos die laaste plaag. Ons kan nou rus en vrede in enige situasie ondervind a.g.v. Jesus se bloed.
Jesaja praat ook van ‘n donker tydperk in die wêreld, maar dat die lig skyn oor God se kinders. Elkeen van ons is die lig van die wêreld. Jesus en Heilige Gees moet helder deur jou skyn maak nie saak wat in hierdie donker wêreld gebeur nie.
“STAAN op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”
JESAJA 60:1-2 AFR53
Ek glo Jesus sal weer terugkeer op die 3de dag (einde van 6000 jaar). Hy sal duisternis in die wêreld vind, maar lig by die wat naby Hom leef.