Die liggaam sukkel om te ontvang
- 3 minutes read - 610 wordsEk weet God wil Sy kinders nou seën - “He is eager to bless you.” Waarom sien ons dit dan nie? Waarom sien ons nie die “groter werke” oral nie?
God het my vrae beantwoord in ‘n reeks visioene oor ‘n paar dae. Hy het vir my gewys dat Sy kinders moeg is en in pyn verkeer omdat hulle sukkel om te ontvang. Daar is ook van Sy kinders wat die leuens van die vyand glo.
Ek glo God se Woord is die beste medisyne vir enige probleem. Ek glo om te “marineer” in God se Woord verander mense. Dit neem tyd en dissipline en gebeur nie altyd onmiddellik nie. Ons moet doof raak vir die stem van die vyand.
“Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
JAKOBUS 4:7 AFR53
Party mense sal sê om ‘n stuk beesvleis sag te kry moet jy dit met ‘n vleishamer bykom. Jesus het die pyn en lyding deurgegaan sodat jy dit nie hoef te verduur nie. Jy hoef nie te betaal vir enige sonde nie. Moenie jouself straf oor sonde waarvoor Jesus betaal het nie. Om jammer te sê is genoeg vir Jesus. Jesus is lief vir jou.
“As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
I JOHANNES 1:9 AFR53
Toe jy besluit het om Hom te volg het jy ‘n koningskind (prins/prinses) geword. Jy kan nou die beste ontvang, want jy het sekere voorregte as koninklike. Ek het iewers gelees dat daar ‘n spesiale rooi lipstiffie was wat net Koningin Elizabeth kon gebruik. Strate en selfs winkels word gesluit om koninklikes kans te gee om vrylik te beweeg of inkopies te doen. Koninkles het ook lyfwagte om hulle veilig te hou. Koninkles woon in paleise, het die beste motors, eet die beste kos ens. Koninkles geniet al hierdie voordele omdat hulle vader die aardse koning is. Hulle verdien dit nie. Hulle het nie alles reg gedoen of betaal vir die voordele nie. Jou Vader is die Hemelse Koning en daarom kan jy ook die voordele van Sy koninkryk geniet. Jy verdien dit nie, maar jou posisie as kind, gee vir jou hierdie voordele.
“Want Ek sal barmhartig wees oor hulle ongeregtighede en aan hulle sondes en hulle oortredinge nooit meer dink nie.”
HEBREËRS 8:12 AFR53
God dink nie meer aan jou sondes nie. Waarom dink jy daaraan? Moenie jouself diskwalifiseer nie. Jy is goed genoeg, mooi genoeg, oud/jonk genoeg, sterk/braaf genoeg en slim genoeg, want Koning Jesus woon in jou. Jy is gemaak na die beeld van God. God wil jou gebruik. Jy is deel van die liggaam. As jy nie jou deel doen nie kry die liggaam swaar. Miskien is jy geroep om die oë of ore te wees en jy moet waarskuwings bring. Miskien is jy geroep om die voete te wees wat die Woord moet verkondig. Miskien is jy die hande en wil God jou gebruik om siekes gesond te maak. Miskien moet jy ‘n besigheid begin wat help om werkloosheid te verminder en jy kan ander finansieël bystaan. Sonder jou kan die liggaam nie reg funksioneer nie. Jy is ‘n belangrike deel van die liggaam - 1 Korinthiërs 12. Ons kan nie langer wag vir ander om hulle deel te doen nie. Ek en jy moet ons deel doen. God wil JOU seën sodat JY ander kan seën.
“En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee.”
MATTHÉÜS 10:7-8 AFR53