DIE MENS SE SLIM PLANNE
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 297 words“Kyk, net dit het ek uitgevind: dat God die mens reg gemaak het, maar hulle het baie slim planne gesoek.”
PREDIKER 7:29 AFR53
Slim planne: Strong’s H2810 - “a contrivance, that is, actual (a warlike machine) or mental (a machination): - engine, invention”.
Ons vind die woord slegs in 2 verse in die Bybel. In die ander vers word dit vertaal as oorlogswerkstuie. Koning Ussía het goed begin, maar hoogmoedig geraak en begin om sy eie koninkryk te bou.
“Ook het hy (Koning Ussía van Juda) in Jerusalem oorlogswerktuie gemaak, 'n uitvinding van 'n kunstenaar, wat op die torings en op die hoeke moes staan om met pyle en groot klippe te skiet; en sy roem is verbrei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy sterk geword het.”
II KRONIEKE 26:15 AFR53
God het die mens reg gemaak, maar die mens voer oorlog in hul kop of hul wil fisiese oorlog voer. Ons sien dit vandag in die wêreld om ons. Die aanval op Israel in Oktober 2023 is ‘n voorbeeld van mense wat euwel beplan en deurvoer. Kunsmatige intelligensie, kernwapens, geneties manipuleerde organismes, kunsmatige kos i.p.v. vars kosprodukte, groen bewegings en lewensgevaarlike medikasie is net ‘n paar voorbeelde. Kriogenika bewaar dooie mense en honde om later lewendig te maak. Ek neem aan hulle sal kunsmatige intelligensie gebruik en baie sal mislei word - Daniël 2:43, Matthéüs 24. Die ewige lewe is slegs moontlik deur Jesus. Ons kan nie ons herinneringe en gedagtes in ‘n “cloud” stoor nie; ons kan nie die heerlikheid skep met rookmasjiene nie. Mense word vereer en gevolg; ons moet net vir Jesus volg. Die wêreld het ‘n Babilon geskep terwyl God Sy koninkryk wil bou. Ons moet gereeld seker maak dat ons steeds besig is met God se planne.