DIENAARS VAN GOD
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 479 wordsPaulus en die ander apostels was dienaars (“servants”) van God. Die geheime van God is aan hulle toevertrou. Dienaars moet getrou wees aan God en bekommer hulle nie oor wat ander mense dink en sê oor hulle nie.
Slegs die Here beoordeel die dienaars van God. Dienaars moenie slawe van mense word nie. As dienaars van God moet ons nie twis nie en ander sagmoedig teregwys. Dienaars moenie probeer om “cool” te wees en guns by mense te vind nie. Paulus se lewe was hard en moeilik en baie anders as die “yuppie” kultuur van “skinny jeans” en “smoke machines” wat ons nou in die kerk vind. Watter tipe dienaar is jy?
“SO moet ons dan beskou word as dienaars van Christus en bedienaars van die verborgenhede van God. En verder word van die bedienaars vereis dat hulle getrou bevind moet word. Maar vir my beteken dit baie min of ek deur julle of deur 'n menslike regbank beoordeel word; ja, ek beoordeel myself nie eens nie, want ek is my van geen ding bewus nie. Daardeur is ek egter nie geregverdig nie; maar Hy wat my beoordeel, is die Here. Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.”
I KORINTHIËRS 4:1-5 AFR53
“Want die slaaf wat in die Here geroep is, is 'n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, 'n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie.”
I KORINTHIËRS 7:22-23 AFR53
“Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie 'n dienskneg van Christus wees nie.”
GALÁSIËRS 1:10 AFR53
“Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.”
I KORINTHIËRS 2:15 AFR53
“Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?”
I KORINTHIËRS 6:2-3 AFR53
“En die dwase en onverstandige strydvrae moet jy afwys, omdat jy weet dat dit twis verwek; en 'n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie, en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen.”
II TIMÓTHEÜS 2:23-26 AFR53