Die Sadduseërs, Fariseërs en Samaritane van vandag
Janine Forsyth
- 8 minutes read - 1684 words“MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”
I KORINTHIËRS 1:10 AFR53
Gedurende Jesus se tyd was daar verdeeldheid onder die mense. Daar was 3 groepe wat beweer dat hulle God volg - ***Samaritane, Fariseërs en Sadduseërs.
Paulus het dieselfde probleme met die mense ondervind. Hy moes aan die mense verduidelik dat hulle Jesus volg en nie leiers nie. Deesdae is daar ‘n magdom verskillende kerke. Sommige ondersteun die Jode en ander glo Christene het die Jode vervang. Party doop babas en ander glo in groot doop. Baie ignoreer die bestaan van Heilige Gees en die krag van Heilige Gees. Daar is nog baie meer verskille tussen die kerke. Die Bybel het duidelike instruksies oor meeste van die verskille. Wanneer ons die Woord ken kan ons eenstemmig wees.
Jesus het aan Johannes die probleme van die 7 kerke openbaar - Openbaring 2-3.
• Hulle het hulle eerste liefde verlaat; Jesus moet ons eerste liefde bly.
• Sommige mense gee voor om iets te wees wat hulle nie is nie; moenie mislei word nie.
• Moenie vals leëringe volg nie.
• Wees versigtig vir die manipulerende Isébel gees.
• Wees wakker en versterk jouself in God, Jesus en Heilige Gees.
• Hou vas aan Jesus tot die einde toe.
• Wees aan die brand vir Jesus.
Mense se mening het belangriker geword as die Bybel. Jesus kom vir een vlekkelose bruid. Die bruid sal vol geloof wees en God waarlik ken. Sy sal ook vol krag van die Heilige Gees wees. Maak seker dat jy die Woord ken en Jesus heelhartig volg.
***SAMARITANE
Met die verstrooiing van die 10 stamme van Israel tussen die heidinne, het ‘n nuwe groep - die Samaritane - ontstaan. Hulle het sondige gebruike gemeng met God se voorskrifte. Hulle het in Samaria aanbid i.p.v. Jerusalem. Die Jode en Samaritane het mekaar vermy.
“Daar kom 'n vrou uit Samaría om water te skep. Jesus sê vir haar: Gee vir My water om te drink — want sy dissipels het na die stad gegaan om voedsel te koop. En die Samaritaanse vrou sê vir Hom: Hoe is dit dat U wat 'n Jood is, van my vra om te drink terwyl ek 'n Samaritaanse vrou is? Want die Jode hou geen gemeenskap met die Samaritane nie. U is tog nie groter as ons vader Jakob nie, wat die put aan ons gegee het en self daaruit gedrink het, en sy seuns en sy vee? Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word 'n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe. Ons vaders het op hierdie berg aanbid, en julle sê dat die plek waar ons behoort te aanbid, in Jerusalem is. Jesus sê vir haar: Vrou, glo My, daar kom 'n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.”
JOHANNES 4:7-9, 12-14, 20-24 AFR53
SADDUSEËRS
Die Sadduseërs het nie in die opstanding geglo nie. Jesus het gesê dat hulle dwaal en dat hulle nie die Skrifte en die krag van God ken nie.
“TOE kom daar Sadduseërs na Hom, die wat sê dat daar geen opstanding is nie, en hulle vra Hom en sê:….
En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie?”
MARKUS 12:18, 24 AFR53
FARISEËRS
Die Fariseërs was oënskynlik baie gelowig, maar dit was alles vertoon. Hulle was kinders van die duiwel en het die weduwees se lewens moeilik gemaak. Hulle het die Woord nie geken nie en leuens versprei. Daar was geen liefde onder hulle nie; net reëls en regulasies.
“Ek weet dat julle die geslag van Abraham is; maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het. Hulle antwoord en sê vir Hom: Ons vader is Abraham. Jesus sê vir hulle: As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen; maar nou probeer julle om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie. Julle doen die werke van jul vader. Toe sê hulle vir Hom: Ons is nie uit ontug gebore nie; ons het een Vader, naamlik God. En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie. Wie van julle oortuig My van sonde? En as Ek die waarheid spreek, waarom glo julle My nie? Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.”
JOHANNES 8:37-47 AFR53
“en gesê: Die skrifgeleerdes en die Fariseërs sit op die stoel van Moses. Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie. En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi! Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle 'n swaarder oordeel ontvang. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom 'n kind van die hel, twee maal erger as julle self. Wee julle, blinde leiers, julle wat sê: Elkeen wat sweer by die tempel — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die goud van die tempel, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud heilig? En: Elkeen wat sweer by die altaar — dit is niks nie; maar elkeen wat sweer by die gawe daar bo-op, hy is gebonde. Julle dwase en blindes, want wat is meer: die gawe, of die altaar wat die gawe heilig? Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat. Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk! Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is. Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die regverdiges; Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug? Daarom, kyk, Ek stuur profete en wyse manne en skrifgeleerdes na julle toe, en julle sal sommige van hulle doodmaak en kruisig en sommige van hulle in jul sinagoges gésel en van die een stad na die ander vervolg, sodat oor julle kan kom al die regverdige bloed wat vergiet is op die aarde, van die bloed van die regverdige Abel af tot op die bloed van Sagaría, die seun van Berégja, wat julle vermoor het tussen die tempel en die altaar. Voorwaar Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom. Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!”
MATTHÉÜS 23:2-7, 13-19, 23-27, 29, 33-37 AFR53