DIE SEËLRING
- 4 minutes read - 755 wordsIn Génesis 38 lees ons vir die eerste keer van ‘n seëlring (signet ring) toe Juda sy seëlring aan Tamar sy skoondogter gee met die belofte om vir haar later ‘n boklam te stuur. Juda wou Tamar laat verbrand toe sy swanger word, maar sy stuur toe sy seëlring aan hom. Juda het toe besef dat hy die vader van Tamar se seun is. Peres, hulle seun, is later opgeteken in die geslagregister van Jesus - Matthéüs 1:3. Jesus word ook genoem die “Leeu van Juda”.
Josef het die Farao se seëlring ontvang. Dit was ‘n teken van die outoriteit wat Josef ontvang het. Hy kon namens die Farao besluite neem en dit verseël met ‘n stempel deur die seëlring te gebruik - Génesis 41:42. Josef was ‘n skaduwee van die Messias/Redder vir die Israeliete en hy was tweede in bevel in Egipte. Jesus het ook vol outoriteit gekom en was tweede in bevel deur Sy Vader se wil te doen. Toe Jesus opvaar het Hy Sy outoriteit aan Sy volgelinge gegee. Christene is vandag tweede in bevel op Aarde. Ons dra ‘n geestelike seëlring en het outoriteit om die wêreld te verander.
Gonja, die koning van Juda en die seun van Jójakim, was ‘n seëlring aan God se regterhand - Jeremia 22:24-26. God het hom egter nie toegelaat om koning te word nie, a.g.v. sy sonde. Vandag is almal geroep om God se seëlring te dra, maar dis vrywillig - Matthéüs 22:14.
Nadat Daniël in die leeukuil gegooi is het Koning Darius die klip voor die opening met sy ring verseël sodat niks anders met Daniël kon gebeur nie. God het Daniël beskerm - Daniël 6.
Later lees ons in Ester 3:12 dat Haman vir Koning Ahasvéros oortuig het om al die Jode uit te roei. Briewe is uitgestuur verseël met die koning se seëlring. Mórdegai het Ester na die koning gestuur as bemiddelaar vir die Jode. In Ester 8:8 word die wrede besluit omgekeer en word ‘n brief weer met die koning se seëlring verseël.
Satan word aangespreek as die vors (of prins) van Tirus in Eségiël 28. Tirus was ‘n handelstad vol euwel soos Babilon. Satan was dus die vors of die prins van donkerte verantwoordelik vir al die euwel wat daar gebeur het. Voor satan se val uit die Hemel was hy soos ‘n seëlring vir God. Sy naam was Helel. Hy was perfek of volmaak in gedrag en voorkoms in God se oë. Hy het egte goud met 9 verskillende edelgesteentes gedra. Hy het gewoon op die heilige berg en tussen vurige gesteentes gewandel. Satan/Helel het hoogmoedig geword en geval. Hierdie selfde gees is vandag steeds teenwoordig op Aarde. God het die mens as Sy seëlring gemaak om goed te doen hier op Aarde. Ongelukkig kies mense om satan te dien en geld en handeldryf word bo God se wil geplaas. Christene het egter die outoriteit ontvang om die situasie te verander.
“Spreek met Serubbábel, die goewerneur van Juda, en sê: Ek sal die hemel en die aarde laat bewe. En Ek sal die koningstrone omverwerp en die mag van die heidense koninkryke verdelg; en Ek sal die strydwaens en die wat daarop ry, omverwerp, en die perde en hulle ruiters sal val, die een deur die swaard van die ander. In dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, seun van Seáltiël, my kneg, spreek die Here, en jou maak tot 'n seëlring, want jou het Ek verkies, spreek die Here van die leërskare.”
HAGGAI 2:21-23 AFR53
Serubbábel moes die tempel herbou en is ‘n skaduwee van Jesus. Serubbábel is ook in die geslagsregister van Jesus - Matthéüs 1:12-13. In die Nuwe Testament bou Jesus die nuwe tempel, Sy volgelinge.
Die gelykenis nan die verlore seun (Lukas 15:11-32) vertel dat die verlore seun ‘n ring ontvang wanneer hy terugkeer na sy vader. God is bly oor elke mens wat na Hom kom. Die seëlring verwys na Jesus en ons verbond met God. Jesus se liefde red ons uit die ewige dood. Die bruidegom gee aan sy verloofde ‘n diamantring as teken van die verbond tussen hulle. Die bruid kry ook ‘n nuwe van. Eendag sal elkeen van ons ‘n wit steen ontvang met ‘n nuwe naam daarop - Openbaring 2:17.
“Dra my soos 'n seëlring op u hart, soos 'n seëlring op u arm; want liefde is sterk soos die dood, die liefdes-ywer is hard soos die doderyk, sy gloed is 'n gloed van vuur, 'n vlam van die Here.”
HOOGLIED 8:6 AFR53