DIE SEUN WAT MAANSIEK WAS
Janine Forsyth
- 4 minutes read - 684 wordsLees Matthéüs 17:14-23, Lukas 9:37-45 en Markus 9:14-29.
Jesus het ‘n kind genees wat maansiek was. Die dissipels kon die seun nie genees nie, want hulle was vol ongeloof. Die seun se pa moes ook vergifnis vra vir sy ongeloof. Jesus het verduidelik dat ‘n mens net geloof so groot (of eerder so klein) soos ‘n mosterdsaad nodig het. Ongeloof kanselleer geloof uit en dit maak ‘n mens onbestendig. Jesus het dikwels gevra dat ongelowiges ‘n vertrek moet verlaat voordat hy iemand sou genees. Ongeloof het veroorsaak dat Jesus niemand in Naséret genees het nie. Ons sien ook hier dat die toeskouers/skare die seun reeds dood verklaar het. Vas en gebed help om ongeloof te oorkom. Die Bybel sê ook dat God se Woord ons geloof opbou.
God wil ons almal gebruik om ander te genees.
• Bly vol geloof wanneer jy bid.
• Moenie dat ander se ongeloof jou beïnvloed nie.
• Moenie dat negatiewe dinge wat jy sien jou geloof beïnvloed nie.
• Jesus het genesing gespreek oor mense.
• As daar ‘n demoon is beveel dit in die naam van Jesus om die persoon te verlaat.
• Onthou dis nie jy wat genees nie; dit is Jesus wat genesing bring. Gee vir God al die eer.
“EN toe hulle by die skare kom, gaan daar 'n man na Hom en val voor Hom op die knieë en sê: Here, ontferm U oor my seun, want hy is maansiek en ly swaar; want dikwels val hy in die vuur en dikwels in die water. En ek het hom na u dissipels gebring, en hulle kon hom nie gesond maak nie. Toe antwoord Jesus en sê: o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees, hoe lank sal Ek julle verdra? Bring hom hier vir My. Daarop bestraf Jesus hom; en die duiwel het van hom uitgegaan, en die seun het gesond geword van daardie uur af. Toe kom die dissipels na Jesus afsonderlik en sê: Waarom kon ons hom nie uitdryf nie? En Jesus antwoord hulle: Deur julle ongeloof; want, voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos 'n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie. Maar hierdie geslag gaan nie uit behalwe deur gebed en vas nie.”
MATTHÉÜS 17:14-21 AFR53
“En Jesus sê vir hom: Wat dit betref — as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo. En dadelik roep die vader van die kind met trane uit en sê: Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp! En toe Jesus sien dat 'n skare bymekaar stroom, het Hy die onreine gees bestraf en vir hom gesê: Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.”
MARKUS 9:23-25 AFR53
“En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan? Is Hy nie die seun van die timmerman nie? Is die naam van sy moeder nie Maria en dié van sy broers Jakobus en Joses en Simon en Judas nie? En sy susters, is hulle nie almal by ons nie? Waar kry Hy dan al hierdie dinge vandaan? En hulle het aanstoot aan Hom geneem. Maar Jesus sê vir hulle: 'n Profeet is nie ongeëerd nie, behalwe in sy vaderland en in sy huis. En Hy het daar vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade gedoen nie.”
MATTHÉÜS 13:54-58 AFR53
“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”
ROMEINE 10:17 AFR53
“Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos 'n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie — so 'n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.”
JAKOBUS 1:6-8 AFR53