DIE SEWENDE MAAND
Janine Forsyth
- 3 minutes read - 472 words
Die eerste tempel was gereed in die sewende maand. Salomo het die verbondsark laat inbring. God se heerlikheid het ingetrek in die tempel en die tempel werkers kon nie regop bly nie.
“En al die manne van Israel het by koning Salomo op die fees vergader in die maand Étanim, dit is die sewende maand.”
“En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul. TOE het Salomo gesê: Die Here het gesê dat Hy in donkerheid wil woon. Verseker het ek vir U 'n woonhuis gebou, 'n vaste plek vir U om ewig in te woon.”
I KONINGS 8:2,11-13 AFR53
“en toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die Here te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof die Here, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! — is die huis, die huis van die Here, vervul met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van God vervul.”
II KRONIEKE 5:13-14 AFR53
Die sewende maand word in Hebreeus Étanim genoem. Na die 70 jaar Babiloniese ballingskap is Étanim verander na Tishrei.
Étanim: Hebreeus vir blywend of sterk; dit val tussen September en November op ons kalender en die riviere bly vloei in Israel.
Tishrei: Babilonies vir die maand van begin.
Die sewende maand op die Joodse godsdienstige kalender is ook die eerste maand op die siviele kalender. Toe die Israeliete uittrek uit Egipte het God Nissan na die eerste maand verander - Exodus 12:1-2. Dit was ook die eerste Pasga. Lewe begin dus met Pasga wanneer Jesus sterf en opgewek word. Gedurende die sewende maand vind Rosh Hashanah (Joodse Nuwe Jaar) en Yom Kippur (Versoeningsdag) plaas. Die sewende maand dui op ons nuwe lewe in die Nuwe Jerusalem.
Die nommer 7 word beskou as ‘n heilige of perfekte nommer en dui op God se sigbare teenwoordigheid. Die eerste tempel was gereed in die sewende maand. God kon rus en die mense kon rus vind in die tempel. Ons tempel moet ook gereed wees vir die geestelike sewende maand en ons nuwe begin hierna.
“Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; Daar bly dus 'n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”
HEBREËRS 4:4, 9-11 AFR53