DIE SEWENTIG
- 5 minutes read - 953 wordsLukas 10:1-24
Jesus het 70 (35 groepe met 2 mense/groep) mense voor Hom uitgestuur om die Woord te verkondig. Ons sien dat groepe van 70 op meer plekke in die Bybel voorkom. Die hele stam van Israel het ontstaan uit 70 familielede van Jakob wat na Egipte verhuis het (Exodus 1:5). In die Ou Testament het 70 ouer mense saam met Moses en Aäron vir God op die berg ontmoet (Exodus 24, Númeri 11:16). Later sou die Sanhedrin (joodse raad) uit 70 lede en die hoërpriester bestaan.
7: Voltooid, perfek en rus, sigbare teenwoordigheid van God.
10: Die nommer van orde.
70 = 7 x 10: Sewentig verteenwoordig dus God se koninkryk.
Dit was dus heel gepas dat Jesus ook 70 mense uitgestuur het om Sy koninkryk te versprei op Aarde. Dit is interessant dat terwyl God met my praat oor waarom Jesus 70 mense uitgestuur het, het ek gelees dat Koningin Elizabeth nou al 70 jaar lank regeer. Ek glo dit het tyd geword dat God meer vereer word en mense minder. Mense gaan ‘n honger ontwikkel vir goddelike dinge. Film en media sal moet verander om plek te maak vir gesonde bybelse inhoud. Christene kan nie meer wêreldse tv, films en sensasie verdra nie. Die wêreld sal anders lyk as Christene God se koninkryk in elkeen van die 7 areas van die samelewing versprei.
Ons weet dat Jesus dikwels metafore gebruik het. Jesus het gesê dat die oes groot was, maar dat daar min arbeiders was. Daar was dus baie mense wat gered moes word, maar nie genoeg mense om die Woord te versprei nie. Dit is meer as 2000 jaar later en ons ondervind steeds dieselfde probleem. Mense weet van God, maar hulle ken Hom nie. Moses het dit ook ondervind (Deuteronómium 5:23-27, Psalma 103:7, Hebreërs 3:10). Christene moet vir God, Jesus en die Heilige Gees ken en Hom dan met ander deel.
“En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”
JOHANNES 17:3 AFR53
Jesus sê verder Hy stuur die 70 uit soos lammers tussen wolwe. Daarom is ons nie verbaas wanneer mense teen jou is omdat jy ‘n kind van God is nie. Jesus waarsku ons hierteen. Die 70 moes geheel en al op God vertrou vir hul kos, klere en blyplek. God is ons bron en ons moet op Hom vertrou vir alles. Jou werk, jou eggenoot, jou ouers, jou bankrekening of erfporsie is nie jou bron nie. Die 70 se aandag moes ook nie afgetrek word deur wêreldse dinge nie. Hulle fokus moes op Jesus wees sodat hulle die missie kon voltooi. Wanneer mense hul nooi om oor te bly moes hulle by die mense oorbly en daar eet. Die 70 moes hulle vrede deel met die huisgesin. Indien mense hulle nie wou ontvang nie moes hulle hul vrede saam met hul neem.
“En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom. Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.”
LUKAS 10:9, 11 AFR53
Die mense kon dus vrywillig die koninkryk van God ontvang of verwerp. Die dissipels moes die stof (fisiese stof en geestelike verwerping) afskud en aanbeweeg wanneer mense hulle nie wou ontvang nie. Dis redelik maklik om die stof af te skud wanneer dit by vreemdelinge kom, maar familie en familie is ‘n bietjie moeiliker. In Lukas 13:6-9 vertel Jesus ‘n gelykenis oor ‘n onvrugbare vyeboom. Die eienaar (God) wou hê die vyeboom moes uitgekap word nadat die boom 3 jaar sonder vrugte was. Die tuinier (Jesus) het gevra vir nog ‘n jaar waarin hy die boom kon bemes en daarna sou hy die boom uitkap as daar steeds geen vye was nie. Ek glo met sommige mense kan jy praat, vir ander kan jy bid vir jare lank en dan is daar ander wat jy net moet laat gaan. Miskien stuur God ander Christene op hul pad. Laat jou deur die Heilige Gees lei sodat jou fokus op God en jou missie kan bly. In Markus 6:1-6 sien ons dat die mense in Násaret geen geloof in Jesus gehad het nie en dat Jesus daarom aanbeweeg het na ander plekke.
“Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.”
LUKAS 10:16 AFR53
Met die terugkeer van die 70 was hulle baie gelukkig want hulle kon demone uitjaag deur Jesus se naam te gebruik. Jesus het vir die 70 outoriteit gegee “oor al die krag van die vyand”. Jy is vandag op aarde en daarom het jy outoriteit “oor al die krag van die vyand”. Jy het outoriteit oor demone, die weer, siektes en alle aardse probleme.
“Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”
LUKAS 10:19 AFR53
Die Vader onthul hierdie outoriteit aan mense wat vol kinderlike geloof is en nie aan mense wat dink hulle weet alles nie.
“Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar.”
LUKAS 10:22 AFR53
Vandag is ons baie meer as 70 mense wat uitgestuur is. Jy is een van hulle. Jesus wil hê jy moet jou outoriteit gebruik om Sy koninkryk te versprei op hierdie Aarde. Jy het mag “oor AL die krag van die vyand.”