DIE SKEPPING WAG DAT DIE KINDERS/SEUNS VAN GOD OPENBAAR WORD
- 3 minutes read - 493 wordsLees Romeine 8.
As jy in die Gees lewe is jy ‘n kind van God. Sonder die Gees kan ons nie aan Jesus behoort nie. Die Vader het Sy enigste Seun gegee sodat ons ook kinders van God kan word. Dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het woon binne ons. Daarom kan ons ook die ewige lewe beërwe en ons kan ook kinders van God genoem word. Net soos Jesus ‘n seun van God is, is jy nou ‘n seun van God.
“En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.
En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.
want as julle na die vlees lewe, sal julle sterwe, maar as julle deur die Gees die werke van die liggaam doodmaak, sal julle lewe. Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God.”
ROMEINE 8:8-9, 11, 13-14 AFR53
Romans 8:14 MEV
For as many as are led by the Spirit of God, these are the sons of God.
Kinders van God is nie net ‘n titel wat ons verkry omdat God se Gees in ons woon nie. Nou moet ons ook optree soos Jesus opgetree het. Ons kan nie meer toelaat dat ons vlees ons langer beheer nie. Ons moet saam met Jesus ly sodat ons saam met Hom verheerlik kan word. Ons moet toelaat dat God se Gees in en deur ons werk. Ons moet heilig en braaf soos Jesus wees, ons moet lig bring, ons moet siekes genees, duiwels uitdryf en die “groter werke” doen.
“Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders; en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik.”
ROMEINE 8:29-30 AFR53
Die skepping wag vir God se kinders om soos Jesus op te tree. Dit is ‘n uitnodiging vir jou om nie langer rond te sit en wag vir leiers nie. Jesus is die enigste hoof van die kerk. Jy is geroep om soos Jesus te wees. Heiligmaking, lyding en aksie is nodig sodat die kinders van God openbaar kan word.
“Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God.”
ROMEINE 8:19 AFR53
Romans 8:19 MEV
The eager expectation of the creation waits for the appearance of the sons of God.