DIE TEKEN
- 5 minutes read - 899 wordsLees Jesaja 7-9:6.
Jesaja het meer as 700 jaar voor Christus reeds profeteer dat Jesus/Immánuel sal kom. Jesus, die Seun van God, sou ‘n teken wees. Jesaja verwys gedurig na Immánuel - “God by/met ons” - Jesaja 8:8, 10, 14-16, 23, 9:5-6.
“Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het — tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die Here van die leërskare wat op die berg Sion woon.”
JESAJA 8:18 AFR53
Jesaja se kinders was tekens aan Israel. Jesaja se eerste seun se naam was Sjear Ja-sjub wat beteken “Die oorblysel sal terugkeer” - Jesaja 1:9, 6:13, 7:3,22. Daar was dus hoop vir Juda en Israel dat hulle nie heeltemal vernietig sal word nie. Die eerste Adam, die seun van God (kyk Lukas 3:38) het sonde gedoen en geval. Tog het God altyd ‘n oorblysel gehad wat Hom heelhartig gevolg het. Jesus, of die laaste Adam, het gekom om versoening te bring en gee vir ons (nie Jode) geleentheid om deel van die oorblysel te wees. Jode en nie-Jode is nou een in Christus. Die oorblyfsel sal oorwin - Openbaring 2-3. Jesaja se eerste seun herinner ons vandag aan ‘n Nuwe Jerusalem waar elke nasie en stam (Openbaring 7:9) Jesus sal vereer.
“Eis vir jou 'n teken van die Here jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe. Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die Here nie versoek nie. Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie? Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem. Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is. Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.”
JESAJA 7:11-16 AFR53
Jesaja het die Woord gespreek en die profetes (sy vrou) het weer geboorte geskenk aan ‘n seun. Jesaja se seun was ‘n skaduwee van Jesus en ‘n teken vir Juda. God het gespreek deur ‘n engel en Maria het swanger geword en Immánuel is gebore - Matthéüs 1:18-23. Jesus was ‘n teken aan die mense. Jesaja se ander seun se naam was Maher - Shalal - Hash - Baz wat beteken “Netnou is daar buit gou is daar roof”. Jesaja se seun was ‘n teken dat die 10 stamme uit die noorde (Israel/Efraim) en Aram/Sirië tot ‘n val sou kom.
“En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en 'n seun gebaar; en die Here het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof. Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.”
JESAJA 8:3-4 AFR53
Nadat Agas koning van Juda hoor dat sy vyande Israel en Aram tot ‘n val sou kom weens hulle sonde, het hy steeds nie tot inkeer gekom nie - 2 Konings 16. Gevolglik sou die magtige koning van Assur (Assyria) ook Juda aanval. God bring later restorasie vir Juda deur Agas se seun Hískia (Hezekiah).
“en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!”
JESAJA 8:8 AFR53
God wou Juda beskerm onder Sy vlerke soos ‘n hen haar kuikens beskerm. Jesus het dit bevestig in die Nuwe Verbond. Juda wou dit nie hê nie en “die vreemde vlerke” van die vyand het dus die land oorgeneem.
“Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.”
PSALMS 91:4 AFR53
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en die wat na jou gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak, soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke, en julle wou nie.”
LUKAS 13:34 AFR53
In Jesaja 8:19-23 bevestig Jesaja die koms van Jesus. Die areas wat eerste deur die vyand ingeval is, sou die areas wees waar Jesus eerste sou preek. Jesaja profeteer dat Jesus oorkant die Jordaan selfs met die heidinne sal omgaan.
“Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: in die eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring, en in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene.”
JESAJA 8:23 AFR53 (In sommige Bybels is dit Jesaja 9:1)
God is getrou en Jesus wil jou beskerm onder Sy vlerke. Met Jesus is daar volledige restorasie. Jesus bring nie net vir die mense restorasie nie, maar selfs vir die land. Jesaja het hoop gebring vir Juda(Jode) en Israel wat tussen die nasies (heidinne) verstrooi is. Hierdie hoop word net in Jesus gevind. Wanneer dit donker raak, onthou Jesus is steeds ons hoop.
“Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word.”
HEBREËRS 4:16 AFR53