Die toekoms en die verlede is sigbaar
- 3 minutes read - 639 wordsSoms dink ek mis ons heeltemal wat die Bybel sê. Ons hoor altyd Moses kon God se agterkant sien, maar nie sy gesig nie.
“Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. Ook het die Here gesê: Kyk, hier is 'n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.”
EXODUS 33:20-23 AFR53
Moses kon die hele tydlyn van die verlede sien, tot aan die begin. Moses kon alles agter God sien, maar niks van voor nie. Moses kon dus nie die toekoms sien nie. Moses kon daarna die boek Génesis skryf.
Jesaja het God gesien en bly lewe.
“IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.”
JESAJA 6:1 AFR53
God se kleed, heerlikheid, goedheid, majesteit of oorwinnings het die hele tempel gevul. Hierdie kleed van die verlede is al wat sigbaar was vir Moses. Moses kon alles agter God sien. Moses kon egter nie sien wat voor God was nie. Moses kon nie sien wat in die toekoms gaan gebeur nie. Ek glo Jesaja kon God sien omdat hy geroep was om te profeteer oor die toekoms. Sewe honderd jaar voor Jesus se geboorte het Jesaja vir Jesus sien sterf.
“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”
JESAJA 53:5 AFR53
Eségiël, Daniël en Johannes beskryf ook God se voorkoms en almal van hulle kon dele van die toekoms sien.
“En bokant die uitspansel wat oor hulle hoof was, was iets wat soos saffiersteen gelyk het, in die gestalte van 'n troon; en op die troongestalte 'n gestalte wat soos 'n mens gelyk het. Ek sien toe iets soos blinkende metaal; van wat soos sy lendene gelyk het boontoe soos vuur, rondom in 'n omhulsel gevat; en van wat soos sy lendene gelyk het ondertoe, het ek iets gesien soos vuur met 'n glans daaromheen. Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op 'n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.”
ESÉGIËL 1:26-28 AFR53
“Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en 'n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan 'n brandende vuur;”
DANIËL 7:9 AFR53
“NÁ hierdie dinge het ek gesien — kyk, 'n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos 'n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur. En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag.”
OPENBARING 4:1-3 AFR53
Moses moes in die kleef van die rots skuil terwyl God se goedheid verby hom beweeg. Dit illustreer ‘n posisie van intimiteit. Vanuit ‘n posisie van intimiteit kan God steeds vir ons die verlede en toekoms wys.