DIE VORS IN ESÉGIËL SE TEMPEL
Janine Forsyth
- 8 minutes read - 1572 wordsEségiël het ‘n visioen gehad van ‘n tempel gedurende die tyd van Koning Jójagin, die tweede laaste koning van Juda - Eségiël 1:1-2. Die eerste tempel is eers later in 586 v.C. vernietig. Na die 70 jaar ballingskap het Serubbábel die tweede tempel gebou. Eségiël se tempel is nooit gebou nie. Dit sal moontlik deur God opgerig word. Die Nuwe Jerusalem sal nie ‘n tempel hê nie, want Jesus en God sal die tempel wees - Openbaring 21:22. Dit mag dalk die 1000 jaar Messiaanse tydperk wees. Of dit verwys moontlik simbolies na die Nuwe Testament se tempel, naamlik Christene en nie ‘n gebou nie. Was dit dalk die ontwerp vir die tweede tempel, maar die ontwerp is nie gevolg nie? Die Joodse feeste en die offers sal steeds gehou word in die tempel.
God se heerlikheid het ingetrek in dié tempel. Daar sal ‘n vors/prins in die tempel wees wat deur die poort in die ooste (Die Skone/ Genade/ Goue poort) ingaan. Hierdie poort is altyd gesluit behalwe op ‘n nuwe maan of sabbat. Eségiël het vroeër ‘n gesig gesien waar God se heerlikheid die eerste tempel verlaat het deur die oostelike poort - Eségiël 10:18-10, 11:23. Jesus gaan terugkeer op die sewende dag - Sabbatdag - wanneer die poort in die ooste oop is. Die poort in die ooste is toegemaak in 1540/1 deur Suleiman. Die res van die mense sal by die poort in die noorde ingaan en by die suide uitgaan - Eségiël 46. Die tempel sal in areas ingedeel wees en daar is ‘n spesifieke area vir die vors. Die vors sal seuns en dienaars hê; Slegs die seuns kan ‘n permanente erfdeel ontvang. Ons is nie langer diensknegte nie, maar kinders van God en sal die ewige lewe beërwe.
Daar sal water uitstroom onder die tempel, in die rigting van die ooste. Die water sal onder die regtersymuur uitstroom. Die regterkant is simbolies van God se teenwoordigheid. Eségiël was eers enkeldiep, toe kniëdiep, later tot by sy heupe in die water. Die water was later so diep dat ‘n mens nie kon loop nie, maar moes swem. Eségiël het ook die Paradys gesien waar die boom/bome langs die water groei om genesing te bring vir die nasies. Eségiël 47 word gewoonlik gesien as ‘n simbool van die mens se intimiteit met die Vader. Ons kan dus toegang kry tot genesing deur intimiteit met die Vader. Strome van lewende water vloei uit diegene wat Heilige Gees ontvang.
Ek weet nie of Eségiël se tempel na vandag of eendag verwys nie. Wat ek wel weet is dat Jesus ons enigste Prins en Vors is en Christene kan ‘n baie intieme verhouding met hul Hemelse Vader hê.
“TOE het hy my gelei na die poort, die poort wat na die ooste kyk. En kyk, die heerlikheid van die God van Israel het van die oostekant af gekom; en die geruis daarvan was soos die geruis van baie waters, en die aarde het geglans van sy heerlikheid. En die gesig wat ek gesien het, het gelyk soos die gesig wat ek gesien het by my koms om die stad te verwoes; en dit was gesigte soos die gesig wat ek gesien het by die Kebarrivier; en ek het op my aangesig geval. En die heerlikheid van die Here het in die huis ingetrek deur die poort waarvan die voorkant na die ooste lê. En die Gees het my opgeneem en my in die binneste voorhof gebring; en kyk, die heerlikheid van die Here het die huis vervul. En ek het Een gehoor wat met my spreek uit die huis, terwyl die man by my staan. En Hy het vir my gesê: Mensekind, dit is die plek van my troon en die plek van my voetsole waar Ek vir ewig sal woon onder die kinders van Israel; en die huis van Israel sal my heilige Naam nie meer verontreinig nie, hulle en hulle konings met hulle hoerery en met die lyke van hulle konings, by hulle dood;”
ESÉGIËL 43:1-7 AFR53
“TOE het hy my teruggebring na die buitenste poort van die heiligdom wat na die ooste kyk; en dit was gesluit. En die Here het vir my gesê: Hierdie poort moet toegesluit bly, dit mag nie oopgemaak word nie, en niemand mag daardeur ingaan nie, omdat die Here, die God van Israel, daardeur ingegaan het; daarom moet dit gesluit bly. Wat betref die vors, hy moet as vors daarin sit om brood te eet voor die aangesig van die Here; van die voorportaal van die poort af moet hy ingaan en op dieselfde weg daar uitgaan. Daarop het hy my gebring na die noordpoort, aan die voorkant van die huis; ek kyk toe en sien dat die heerlikheid van die Here die huis van die Here vervul; toe het ek op my aangesig geval.”
ESÉGIËL 44:1-4 AFR53
“En vir die vors: aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die heilige offergawe en langs die stadsbesitting, aan die westekant na die weste en aan die oostekant na die ooste; en die lengte moet wees ooreenkomstig een van die stamgedeeltes, van die westelike grens na die oostelike grens.”
ESÉGIËL 45:7 AFR53
“En wat oorbly, behoort aan die vors, aan weerskante van die heilige offergawe en van die stadsbesitting, langs die vyf-en-twintigduisend, die offergawe, tot by die grens teen die ooste, en na die weste toe langs die vyf-en-twintigduisend tot by die grens teen die weste, net so lank as die stamgedeeltes — dit behoort aan die vors; en die heilige offergawe en die heiligdom van die huis moet in die middel daarvan wees.”
ESÉGIËL 48:21 AFR53
“SO sê die Here Here: Die poort van die binneste voorhof wat na die ooste kyk, moet gedurende die ses werkdae gesluit wees; maar op die sabbatdag moet dit oopgemaak word; ook moet dit op die dag van die nuwemaan oopgemaak word.”
ESÉGIËL 46:1 AFR53
“En as die vors 'n vrywillige offer gereedmaak, 'n brandoffer of dankoffers as vrywillige offer aan die Here, dan moet hulle vir hom die poort oopmaak wat na die ooste kyk; en hy moet sy brandoffer en sy dankoffers berei soos hy op die sabbatdag doen; en as hy uitgaan, moet hulle die poort sluit nadat hy uitgegaan het.”
ESÉGIËL 46:12 AFR53
“So sê die Here Here: As die vors aan een van sy seuns 'n geskenk gee van sy erfdeel, dan moet dit vir sy seuns wees: dit is hulle besitting as erfenis. Maar as hy van sy erfdeel 'n geskenk aan een van sy dienaars gee, dan sal dit syne wees tot by die jaar van vrylating; dan moet dit aan die vors terugval; net vir sy seuns moet sy erfdeel wees. En die vors mag niks neem van die erfdeel van die volk om hulle uit hul besitting te verdring nie; van sy besitting moet hy aan sy seuns 'n erfdeel gee, sodat my volk nie verstrooi word elkeen uit sy besitting nie.”
ESÉGIËL 46:16-18 AFR53
“DAARNA het hy my teruggebring na die ingang van die huis, en kyk, daar het waters uitgestroom onder die drumpel van die huis uit, na die ooste toe; want die voorkant van die huis was na die ooste toe; en die waters het weggevloei onder die regtersymuur van die huis uit, suid van die altaar. En hy het my uitgebring deur die noordpoort en my buitekant om laat gaan na die buitenste poort wat na die ooste kyk; en kyk, die waters het gekabbel uit die regtersymuur uit. Toe die man na die ooste uitgegaan het met 'n meetsnoer in sy hand, het hy duisend el gemeet; en hy het my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die enkels. Toe het hy nog duisend gemeet en my deur die waters laat deurgaan — waters tot aan die knieë; en hy het nog duisend gemeet en my laat deurgaan — waters tot aan die heupe. Verder het hy nog duisend gemeet — 'n stroom wat ek nie kon deurgaan nie! Want die waters het opgerys — waters om in te swem, 'n stroom waar 'n mens nie deur kan loop nie. En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan — uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.”
ESÉGIËL 47:1-5, 12 AFR53
“Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.”
JOHANNES 7:38-39 AFR53
“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus.”
GALÁSIËRS 4:4-7 AFR53