DONKER WOLKE IS OPPAD, MAAR JESUS REGEER STEEDS
- 5 minutes read - 1013 wordsVir die laaste paar maande hoor ek profete praat van ‘n kostekort, finansiële ineenstorting, onluste en ‘n “blackout”. Sommige het selfs impliseer dat ons nie toegang tot ons eie geld in die bank sal hê nie en dae lank sonder elektrisiteit mag wees. Ons het water en elektrisiteit tekorte gesien en soms was daar banke wat vir ‘n paar uur nie gewerk het nie. Onluste en betogings is ook nie iets nuuts nie, maar ek neem aan hulle praat van alles op ‘n baie groter skaal, Ander profete sê weer ons hoef ons nie te bekommer nie - “Jesus sorg vir Sy kinders. Ons sal oorvloed ervaar.” Ek wil altyd kies om te glo dat God vir my sorg, maar soms kry ons waarskuwings sodat ons voorbereiding kan tref vir dit wat kom. Onlangs het ek vir die eerste keer ‘n droom gehad oor donkerwolke wat kom.
“Verag die profesieë nie.”
I THESSALONICENSE 5:20 AFR53
“Want ons ken ten dele en ons profeteer ten dele.”
I KORINTHIËRS 13:9 AFR53
Ek glo God waarsku ons wanneer ons dinge moet weet. Ek het voor die pandemie ‘n klomp drome oor misleiding gehad en het geweet iewers gaan iets gebeur. Alhoewel ek geen idee gehad het wat presies gaan gebeur nie. Ek onthou profeet Tracey Cooke het gesê alles wat geskud kan word gaan geskud word in 2020. Toe ek dit gehoor het, het ek gedink meer aardbewings kom en ons kry mos nie aardbewings regtig hier in die Kaap nie. Ons het toe 2 ligte aardbewegings gehad en is nog baie meer geskud.
Ek het so 2 jaar gelede ‘n droom gehad dat ek ‘n spesifieke operasie moes ondergaan. Op daardie stadium was daar absoluut niks verkeerd met my nie en ek het daarteen gebid. Ek was sommer vies, want wie wil nou ‘n operasie laat doen? Toe ek gesondheidsprobleme ondervind het ek steeds vir genesing gebid voor ek na ‘n dokter gegaan het. Ek het nie beter geword nie en het met vrede in my hart die operasie laat doen. Die eerste paar uur na die prosedure het ek baie pyn ervaar. Ek het in tale gebid en pynmedikasie geneem. ‘n Paar uur later kon ek met gemak opstaan en het baie vinnig beter gevoel. Soms sien mens onmiddellike bo-natuurlike genesing en soms moet jy God vertrou vir die regte dokter om jou te behandel. God gebruik nie altyd dieselfde metode nie.
“maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
JOHANNES 14:26-27 AFR53
My punt is dat wanneer jy slegte nuus in ‘n droom ontvang het jy die geleentheid om daarteen te bid. Jy kan voorbereiding tref en selfs vrede ervaar, in die middel van chaos. God wil nie hê dat ons vrees moet ervaar wanneer Hy die toekoms met ons deel nie. In my droom het ek donkerwolke in die lug gesien. Die wolke het rondbeweeg en selfs bollemakiesie geslaan. Skielik het die wolke ‘n stuk land getref. (Ek glo dis hoe dit lyk wanneer weerlig iets tref, alhoewel ek nie die normale geraas van donderweer gehoor het nie.) Dit het alles reg voor my gebeur. Toe ek omdraai het ek gesien dat ‘n man met ‘n selfoon ‘n video van die insident geneem het. Ek was glad nie bang nie. Ek onthou dikwels my drome in drie dele. Dit was die eerste gedeelte.
In die tweede gedeelte het ek by ‘n oud onderwyser van my by die skool gaan kuier. Toe ek daar kom was daar onluste en chaos om die skool. Tot op daardie oomblik was ek onbewus van die onluste. Ek kon sien die onderwyser het gewonder waarom ek in die chaos rondloop. Ek was nie bang nie alhoewel ek nou deeglik bewus was van wat aangaan.
In die derde deel van die droom het ek reggemaak om ‘n kruis te gaan uitpak op die grond waar die wolke die grond getref het. Dit was soos ‘n markdag by ‘n skool.
Die droom maak my glad nie bang nie, maar ek voel Heilige Gees “chills” wanneer ek daaraan dink. Ek glo God sê Hy sal na Sy kinders kyk al kom daar donkerder tye.
Wolke kan God of engele teenwoordig en donker wolke dui op moeilike tye of oordeel.
Bollemakiesie impliseer dat iets omgekeer word, dit kan wedergeboorte beteken of selfs feesviering.
Weerlig kan God se krag en heerlikheid aandui of oordeel en die val van die vyand.
Wanneer iemand ‘n video maak is dit om aandag op ‘n insident te plaas of om dit te onthou.
Ek glo God het gesê dinge gaan nog moeiliker word, maar Hy draai dit om. Baie mense gaan tot bekering kom en Hy gaan die wat verkeerd doen laat val. Op die plekke waar skade aangerig word, seëvier Jesus se kruis steeds. God se kinders gaan voorspoedig wees. Jesus het reeds betaal. Christene moenie bang wees nie, maar ons moet met outoriteit regeer. Mense om jou sal verbaas wees dat jy nie bang is nie. Selfs die ouer, meer ervare mense kan by ons leer. Dit is nou tyd dat God se heerlikheid die Aarde vul en nog nie die tribulasie nie. Satan se planne gaan faal. Die Vader se heerlikheid gaan binnekort uitgestort word. Ons gaan ‘n nuwe era in en ons gaan met dankbare harte onthou hoe God ons situasie verander het.
Wat kan ons doen om voor te berei? Bid en neem outoriteit. Jy is ‘n kragtige persoon wat volle outoriteit oor die vyand het. Bou intimiteit met die Vader en vra die Heilige Gees om vir jou instruksie te gee.
“Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.”
LUKAS 10:19 AFR53