Dood Vir Die Wêreld
- 3 minutes read - 568 wordsEk wonder altyd hoe kry die vervolgde kerk dit reg om Jesus te kies al word hul gemartel? Hoe kon Stéfanus sy oë op Jesus hou terwyl hy gestenig word (Handelinge 7)? Hoe kon Jesus wat sonder sonde was, gekruisig word? Ek glo die antwoord lê in die vlees wat dood is vir die wêreld. Wanneer jy leer om ten volle in die Gees te lewe, sien jy jouself sit in hemelse plekke saam met Jesus. Jy weet jy hoef jou nie te bekommer as iemand jou martel en jy sterf nie. Ek het gehoor van ‘n vrou wie se dogter vermoor is en sy kon die moordenaar, ‘n vriend van haar dogter, onmiddellik vergewe. Die vrou het die moordenaar in die tronk besoek en hom aangeneem as haar eie seun. Dit is slegs moontlik, wanneer jou wil gesterf het en God se Gees deur jou lewe.
“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.”
GALÁSIËRS 2:20 AFR53
Lukas maak dit baie duidelik dat ons slegs ‘n volgeling van Jesus kan wees as ons daagliks bereid is om ons kruis te dra en Hom te volg (Lukas 9:23-25, 14:27). Jesus self het dit gesê:
“En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.”
MATTHÉÜS 10:38 AFR53
Paulus verduidelik dat wanneer ons gedoop word, gaan ons onder die water in en dit simboliseer die dood/graf en daarna kom ons op uit die water uit. Laasgenoemde simboliseer Jesus se opstanding. Deur die doop word jy dus simblolies dood vir die sonde en leef jy saam met Jesus (Romeine 6:1-8). Hierdie doop verwys nie na babas wat besprinkel word nie. Dit is die doop wat jy ondergaan nadat jy tot bekering kom en doen omdat jy die Woord gehoorsaam. Paulus sê ook hy sterf elke dag. Hy het nie fisies elke dag gesterf nie, maar hy het sy vlees/ sy wil laat sterf sodat hy God se wil kon doen. Eers wanneer jou vlees sterf vir die wêreld, kan die Gees waarlik oorneem (1 Korinthiërs 15).
Saad moet eers sterf voordat dit kan ontkiem en groei. Daarna kan een enkele saad baie vrugte en saad voortbring (Johannes 12:24). Ek en jy sal dus baie vrug vir God kan dra, wanneer ons “sterf vir die wêreld” en leef vir Christus. Die Bybel sê ons kan nie sonde doen nie, want ons is uit Sy saad gebore (1 Johannes 3:9).
“Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig. As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.”
GALÁSIËRS 5:24-25 AFR53
“wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.”
I PETRUS 2:24 AFR53
“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.”
ROMEINE 12:1-2 AFR53