DROË BENE
- 3 minutes read - 520 wordsEségiël 37:1-14
Die profeet Eségiël het die opdrag van God gekry om die droë bene van Israel lewendig te maak. Dit was ‘n groot taak, want daar was ‘n hele vallei vol droë bene. Dit was nie ‘n onmoontlike taak nie. Ek glo God vra vir jou vra om die droë bene in jou lewe, familie, dorp of stad lewendig te maak. Dit mag dalk na ‘n groot taak lyk, maar dis nie ‘n onmoontlike taak nie.
Kom ons kyk watter stappe het Eségiël gevolg om die bene lewendig te kry. Eerstens benodig jy ‘n ooplyn van kommunikasie met die Vader deur Jesus.
“Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die Here!”
ESÉGIËL 37:4 AFR53
Jy moet die Woord spreek oor die droë bene. God het die aarde geskep in Génesis 1 deur Sy stem te gebruik. Jesus het mense genees in die Nuwe Testament deur te verklaar dat hul genees was. Daar is lewe en dood in jou tong (Spreuke 18:21). Herhaal Jes 53:5, Ps 103:3 vir genesing, Deuteronómium 8:18 en Deuteronómium 28 vir jou finansies, Johannes 14:27 en Psalm 23 vir vrede, en Johannes 10:10 vir lewe in oorvloed. Vir elke probleem is daar ‘n vers met ‘n oplossing. Gaan soek jou vers as jy dit nog nie gevind het nie.
“En Ek sal senings op julle lê en vlees oor julle laat opkom en 'n vel oor julle trek en gees in julle gee, sodat julle lewendig kan word; en julle sal weet dat Ek die Here is.”
ESÉGIËL 37:6 AFR53
Jy moet jou God ken. Jy moet weet niks is onmoontlik vir God nie (Génesis 18:14, Lukas 1:37, Efésiërs 3:20). Wanneer jy God ken weet jy dat dat niks te moeilik vir jou is nie (Filippense 4:13).
“Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here Here: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word.”
ESÉGIËL 37:9 AFR53
Sonder God se Gees kan ons nie lewe in oorvloed ervaar nie. Die kerk van Sardis in Openbaring 3 het die reputasie gehad dat hulle lewe, maar Jesus het gesê dat hul in werklikheid dood was. Dis ‘n waarskuwing aan ons om wakker te wees. Ons benodig God se Gees sodat ons werklik kan lewe. Ons moet God se stem hoor en Sy krag hê om dinge om ons te verander (Handelinge 1:8).
“Toe sê Hy vir my: Mensekind, hierdie bene is die hele huis van Israel. Kyk, hulle sê: Ons bene is verdor, en ons verwagting is verlore; dit is klaar met ons!”
ESÉGIËL 37:11
Wanneer jy dink “dit is klaar met jou”, dan kom blaas God se Gees lewe in jou situasie en jy sal weet dat God dit gedoen het.
“En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word; en Ek sal julle vestig in jul land; en julle sal weet dat Ek, die Here, dit gespreek en gedoen het, spreek die Here.”
ESÉGIËL 37:14 AFR53