DROME WORD STEEDS WAAR
- 3 minutes read - 530 wordsSo paar nagte gelede het ek gedroom van Mar-A-Lago. Al wat ek geweet het is dat dit President Trump se landgoed in Florida (VSA) is. Toe ek begin navorsing doen het ek ontdek dat die landgoed in 1973 nagelaat is aan die Nasionale Park dienste. Die oorspronklike eienaar wou hê dat dit gebruik moes word as “winter Withuis”. Ongelukkig was daar nie genoeg geld om die landgoed te onderhou nie en is dit teruggegee aan die familie. Donald Trump het dit gekoop in 1985 en dit het later sy Withuis in die Suide geword. Drie-en-veertig jaar na Marjorie Merriweather Post se dood het haar huis ‘n winter Withuis geword (2016), maar dit het net op ‘n ander manier gebeur.
Ek glo God wou my herinner dat drome steeds waar word. Dit gebeur net nie altyd soos ons dit beplan nie. Dinge gebeur nie op ons tyd nie, maar op God se tyd. Ek is seker die Israeliete wou van Egipte uitgaan en dadelik in die Beloofde Land kom. Ongelukkig moes hulle eers verby sekere hindernisse beweeg voordat hulle kon intrek. Hulle moes leer om God te vertrou in elke stap. Ongelukkig kan rebellie teen God ook die proses verleng. Na slegs 11 dae het hulle die Beloofde Land bereik, maar a.g.v. hulle moedswilligheid kon hulle eers 40 jaar later intrek (Deuteronómium 1:1-3). Ook het God nie al die nasies op een slag verslaan en kon hulle net intrek nie. Dit was ‘n proses.
“Ek sal hulle nie in een jaar voor jou uit verdrywe nie, dat die land nie woes word en die ongediertes nie teen jou te veel word nie. Ek sal hulle so langsamerhand voor jou uit verdrywe, totdat jy vrugbaar word en die land beërwe.”
EXODUS 23:29-30 AFR53
Ons wyse Vader het ‘n proses om vir ons die beste te laat gebeur. Ek onthou hoe ek ‘n visioen van ‘n Discovery motor gehad het. Ek het gedink ons gaan ‘n motor kry. Later toe ons die Discovery bedienings sentrum besoek het ek geweet dit is wat ek daardie dag gesien het. Eers baie later het ek geleer dat ‘n motor in ‘n visioen of droom dikwels na ‘n bediening (ministry) verwys. Dit is nie die einde van die wêreld as jy soms verkeerd is nie. Soms maak ek foute, maar die geheim is om weer aan te gaan na ‘n mislukte poging.
Die Heilige Gees plaas drome binne elkeen van ons. Wat kan jy vandag doen om daardie drome te laat gebeur? Moenie dat jou idees van hoe dinge moet gebeur in God se pad staan nie. Soos jy dinge begin doen om jou (God se drome) te laat gebeur sal die nodige fondse opdaag. Moenie eers wag vir die finansies nie. Ek moet myself dikwels herinner dat al die silwer en goud aan my Hemelse Vader behoort (Haggai 2:8). Maak tyd vir dit wat vir jou belangrik is. Jy kan dit doen. Ek weet van ‘n paar goed wat ek moet doen.
“Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.
En my God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”
FILIPPENSE 4:13, 19 AFR53