Droom
- 2 minutes read - 341 wordsNadat ek so paar jaar gelede na Adam Thompson en Adrian Beale geluister het, het ek God gevra dat ek meer kan droom. Sedertdien droom ek baie en kan soms tot 4 drome in die oggend neerskryf. As jy nie jou drome kan onthou nie kan jy die Heilige Gees vra om jou te herinner wat jy gedroom het. Drome was algemene manier waarop God in die Bybel met mense gekommunikeer het. Hy kommunikeer vandag steeds deur drome. Soms waarsku Hy my en soms ontvang ek instruksies.
“VERDER is ’n woord op geheimsinnige wyse na my gebring, en my oor het ’n gefluister daarvan opgevang, by die gedagtespel, uit naggesigte gebore, wanneer diepe slaap op die mense val. Skrik het oor my gekom en siddering en het my hele gebeente laat bewe.”
JOB 4:12-14 AFR53
“WANT God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in ’n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle;”
JOB 33:14-16 AFR53
“En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.”
HANDELINGE 2:17 AFR53
Nadat ek gedroom het vra ek die Heilige Gees om my help om die betekenis van die droom te verstaan. Drome kan letterlik of figuurlik wees. My drome is meestal figuurlik en ek moet dan al die simbole ontrafel om dit te verstaan. Josef in die Nuwe Testament het ‘n letterlike droom gehad wat hom instruksie gegee het om te vlug na Egipte met Maria en Jesus. Josef in die Ou Testament moes figuurlike drome uitlê van die bakker, skinker en die farao.
Boeke, wat jou kan help:
“The divinity code to understanding your dreams or visions” deur Adam. F. Thompson & Adrian Beale.
“The dream book” deur Barbara Claassen.