DROOM OOR KATTE
- 3 minutes read - 571 wordsEk het gedroom dat ons na ‘n nuwe huis trek en dat ons katte nie daar wou bly nie. Die katte het op die straat gaan woon. Hulle sou brandmaer en verskrik na ons huis kom om ‘n bietjie te eet. Sodra ons die katte sien het ons dadelik kos uitgehaal en vir hulle probeer voer. ‘n Vet en versorgde kat met ‘n blink pels van oorkant die straat, het ook na ons huis gekom om te kom eet.
Ons is baie lief vir katte en die katte in die droom het gelyk soos katte wat ons voorheen gehad het. Hulle was egter maer en onversorgd. Die katte kon vol magies hê en in ‘n warm bed slaap, maar het op die straat gaan bly. Ek glo Jesus wou vir my wys dat daar mense is wat soos hierdie katte leef. Hulle het ‘n nuwe huis by Jesus waar hul versorg kan word, maar hulle leef in die wêreld. Hierdie mense is bang en verskrik en besef nie dat hulle in vrede naby Jesus kan leef nie. Dit is wat baie Christene doen. Hulle leef soos weeskinders in die wêreld. Hulle ervaar net die vyand se aanval op hul lewens en glad nie die oorvloed wat Jesus bring nie. Ek glo wanneer jy kan sien dat God altyd goed is en ‘n liefdevolle Vader is, kan ‘n mens jou identiteit in Hom vind. Dan kan ons regtig verstaan dat Jesus alles gegee het sodat ons ‘n lewe van oorwinning kan leef. As ons mense geestelik voer sal selfs ander godsdienstige mense daardeur aangetrek word. Baie Christene is “vet gevoer” met die Woord, maar leef dit nie.
“Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.”
JOHANNES 14:27 AFR53
“En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.”
JAKOBUS 1:22 AFR53
“Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
JOHANNES 10:10 AFR53
Ek glo Jesus wou vir my Sy hart vir Sy “weeskinders” wys. Almal van ons was op ‘n stadium ver van God en het nie geleef as “seuns van God” nie. Ons vergeet so maklik dat ons ‘n pad moes stap voor ons besef het dat ons vry is en met outoriteit kan regeer oor die wêreld. Ek is defnitief skuldig hier. Jesus het gekom om die Jode te red en te beskerm, maar baie het hulle rug op Hom gedraai.
“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos 'n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!”
MATTHÉÜS 23:37 AFR53
Sal jy saam met my meer liefde en genade toon aan diegene wat nog nie die Lig gesien het nie?
“en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,”
EFÉSIËRS 3:18-20 AFR53