DROOM OOR ‘N VROU
- 2 minutes read - 388 wordsEk het gedroom dat ek by ‘n pragtige, groot huis is. Alles was mooi, selfs die vrou wat daar woon was mooi en sy was vreeslik gaaf. Almal het van haar gehou. Na ‘n rukkie het ek besef sy is getroud en haar man was ongelukkig nie baie vriendelik nie. Die vrou het ‘n skelm verhouding gehad met ‘n ander man en al haar werkers het dit weggesteek van haar man. Toe ek wou huis toe gaan het ek my klein motortjie styf teen ‘n muur geparkeer gevind. Daar was nie spasie vir die deur aan die passasierskant (linkerkant) om oop te maak nie. ‘n Man het my sleutels op die grond gegooi en ek het vinnig weggery. Soos ek wegry het ‘n groot vragmotor wat van die linkerkant kom my amper getref. Ek moes behoorlik trap om verby die vragmotor te kom.
Die vrou was ‘n prentjie van Babilon wat ons wil verlei met haar skoonheid en rykdom. Almal was vol simpatie en wou haar beskerm, maar sy was ontrou aan haar man. Die bruid kan nie deur simpatie gelei word nie. Ons word deur die Heilige Gees gelei. Die bruid het net een Bruidegom en kan nie geestelike egbreuk pleeg nie. Wanneer jy deel word van Babilon sal jou roeping benadeel word. ‘n Motor is dikwels ‘n simbool van ‘n kerk of jou roeping. Die vyand wou nie hê ek moet passasiers inlaai en ander nader aan Jesus lei nie. Hulle het selfs beheer oor my outoriteit (sleutels) gehad en dit op die grond gegooi toe ek nie deel van hulle misleiding wou wees nie. Daarna wou ‘n groter kommersiële kerk my uit die pad hê. God se voorsiening vind ons dikwels aan die regterkant. Hy het my gehelp om deur die regter deur terug in my motor te kom en regs verby die groot vragmotor te kom.
Jesus waarsku ons 3 maal in Matthéüs 24 om nie mislei te word nie. Pasop dat simpatie of jou oë en ore jou nie mislei nie. Slegs die Heilige Gees kan ons lei om ‘n rein bruid vir ons Bruidegom te wees.
“En Hy (Jesus) het 'n welgevalle aan die vrees van die Here; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;”
JESAJA 11:3 AFR53