EEN ENKELE HERDER
Janine Forsyth
- 2 minutes read - 319 wordsIn Jeremia 23, Eségiël 34 en Sagaría 11 lees ons hoe die slegte aardse leiers/herders verantwoordelik was dat die huis van Israel tussen die nasies versprei is. God het belowe dat Hy een enkele Herder sal stuur om na Sy skape om te sien.
“En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle 'n herder wees.
En julle is my skape, die skape van my weide; julle is mense, Ek is julle God, spreek die Here Here.”
ESÉGIËL 34:23, 31 AFR53
Na 2500 jaar ondervind ons weer (of steeds) ‘n probleem met slegte leiers. As jy dophou wat in Amerika gebeur sien jy die “superhero” kultuur. Sommige leiers het vergeet dat Jesus die een enkele Herder is. Daar is leiers en profete wat wonderwerke doen met die hulp van vals geeste. Daar is leiers met ‘n sondige leefstyl. Daar is baie wat nooit die salwing van die Heilige Gees ontvang het nie. Die Bybel waarsku ons om weg te bly van geldgierige leiers sonder krag - 2 Timótheüs 3:1-5, Titus 1:16.
Almal het ‘n verlede en as jy berou getoon het sal die Vader jou vergewe. Daar is ongelukkig nagevolge as ‘n leier die wet verbreek het, of ‘n buite egtelike verhouding gehad het, terwyl hulle aktief in ‘n bediening was. Jy kan nie ander leiding gee terwyl jyself in sonde leef nie.
Christene moet self van die Heilige Gees hoor en slegs bevestiging van profete, leiers en ander Christene kry. Ons moenie afhanklik wees van leiers nie. Christene moet God se Woord ken sodat hulle nie mislei word nie. Christene het een Koning en een goeie Herder wat Sy lewe afgelê het vir Sy skape.
“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”
JOHANNES 10:11 AFR53